Uitspraak oor rasgedrewe Covid-hulp kom gou
Uitspraak in AfriForum en Solidariteit se hofsaak teen die minister van toerisme, wat Covid-hulp op grond van ras wil verleen, behoort binne dae gelewer te word.
Die organisasies se regspanne was vandag in die hooggeregshof in Pretoria om kapsie te maak teen Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, se voorgestelde regulasies dat klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) op grond van ras, ouderdom, geslag en gestremdhede vir Covid-hulp oorweeg moet word. ’n Ingewikkelde punteskaal geld vir diegene wat om hulp by die Toerisme Verligtingsfonds wil aansoek doen.
Die besluit van die minister het tot woede onder die algemene publiek gelei wat meen die regulasies is onregverdig en dat dit nie net eienaars van ondernemings benadeel nie. Indien ondernemings hul deure moet sluit omdat hulle nie hulp van die regering kan kry nie, sal derduisende swart mense ook uit diens gestel word.
AfriForum het vroeër ’n aanmaningsbrief aan Kubayi-Ngubane geskryf om die regulasies te skrap, terwyl Solidariteit pres. Cyril Ramaphosa ook versoek het om polities by die saak in te gryp sodat ’n skikking buite die hof bereik kon word. Ramaphosa het nie reageer nie.
In die brief aan Ramaphosa het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, geskryf: “Hierdie saak hoort nie op die hofrol nie. Hulp, gebaseer op ras sal Suid-Afrika in hierdie krisistyd verdeel. U het op verskeie geleenthede ’n oproep op mede-Suid-Afrikaners gedoen om teen die nuwe onsigbare vyand saam te staan om die lewens van ons geliefdes en ons lewensmiddele te beskerm. Hierdie virus ken nie velkleur nie en diskrimineer teen niemand nie. Almal word geaffekteer en almal moet saamstaan.”
Solidariteit voer aan die doel van swart ekonomiese bemagtiging is om ongelykhede van die verlede reg te stel. Die Toerisme Verligtingsfonds moet egter nie gaan oor wie voorheen benadeel is nie, maar om oorlewing.
Volgens Hermann sluit die fonds onder meer groot ondernemings, meeste mikro-ondernemings in wit mense se besit en klein ondernemings wat nie vir belastingdoeleindes geregistreer is nie (meeste daarvan in die besit van swart mense), uit. Slegs maatskappye met ’n omset van minder as R5 miljoen per jaar en wat vir belastingdoeleindes geregistreer is, kwalifiseer om hulp van die fonds te ontvang. ’n Klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van dié verligting wat deur die fonds gebied word. In totaal word 93% van eienaars, asook duisende klein informele swart ondernemings van enige hulp uitgesluit.
“Van die 350 000 werknemers in die industrie is twee uit elke drie swart. Hierdie fonds sluit die oorgrote meerderheid van hierdie broodwinners uit. Die fonds diskrimineer op twee vlakke – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werknemers, wit en swart. Hongerte slaan nie werknemers wie se werkgewers wit is, oor nie,” sê Hermann.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit behoort nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie. “Al die ondernemings wat deur hierdie pandemie geraak word, dra by tot die ekonomie en skep direk of indirek werk in ’n land waar dit broodnodig is. Nood diskrimineer nie, en die regering behoort ook nie.”
Regter Jody Kollapen het gesê daar is begrip dat daar gou uitsluitsel oor die saak moet wees. Hy het gesê sy uitspraak sal binne dae gereed wees. Dit sal per e-pos aan die onderskeie partye gestuur word. Streng gesondheidsmaatreëls het vandag in die hof gegeld. Almal het gesigmaskers gedra en sosiale afstand gehandhaaf.