|

Trauma ná ’n plaasaanval

In die navorsingsartikel “A missing hand at the dinner table: The response to the plight of farmers in South Africa” noem die skrywer dat mense gewoonlik tydens hul tafelgebed God en die kok vir hul kos dank. Tog word die boer wat die kos geproduseer het, selde, indien ooit, in dié gebede genoem.

Ek was besig om navorsing oor plaasaanvalle te doen toe ek op dié artikel afkom. Hoewel ek net die inleiding daarvan meer as twee jaar gelede gelees het, het die titel in my agterkop vasgesteek. Ek is nie seker waarom nie. Miskien is dit omdat iemand wat ek nog nooit ontmoet het nie, maar wat wel ’n rol in my lewe speel, weg is. Nietemin, dié aanhaling herinner mens aan die belangrike rol wat boere en hul werkers speel om te help toesien dat daar kos op ons tafels is.

Die oorlogkorrespondent Sebastian Junger skryf in sy boek Tribe: On homecoming and belonging, wat onder meer handel oor posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en die invloed van ’n gebrek aan gemeenskappe op mense se geestesgesondheid, dat die Amerikaanse publiek dikwels daarvan beskuldig word dat hulle ná ’n oorlog vervreem is van hul soldate. Om eerlik te wees, skryf Junger, staan die publiek onverskillig teenoor byna alle nywerhede wat die nasie aan die gang hou, insluitende landbou. Boonop word die rol van mense in hierdie nywerhede grotendeels misken deur dié wat die meeste daarop steun.

Ek vermoed dat daar ook in Suid-Afrika ’n onverskilligheid tussen mense in stedelike gebiede en die landbougemeenskap is. Eenvoudig gestel, mense dink nie regtig voordat hulle eet aan die opofferings wat boere gemaak het nie. Net so doen party gemeenskappe ook nie genoeg om boere en hul families aan te moedig om ná ’n plaasaanval vir trauma-ontlonting te gaan nie.

AfriForum se statistieke van plaasaanvalle en -moorde skets ’n donker prentjie van mense in landelike gebiede wat daagliks met geweld gekonfronteer word. In 2022 is 333 plaasaanvalle, waaronder 50 plaasmoorde, aangeteken. Dit is byna een plaasaanval per dag. Intussen is die AfriForum-traumaeenheid tans betrokke by 226 lopende traumagevalle wat met plaasaanvalle verband hou. Elkeen van hierdie gevalle verteenwoordig trauma op die een of ander vlak.

Die woord “trauma” is afkomstig van die Griekse woord vir wond. Trauma word deur die American Psychiatric Association (APA) se “Diagnostic and statistical manual of mental disorders” (DSM-5) erken as ’n geldige kriterium vir ’n diagnose van verskeie versteurings mits dit aan sekere vereistes voldoen.

Volgens die DSM-5 is daar verskeie soorte traumas en stresverwante versteurings, maar die twee soorte wat veral ná ’n plaasaanval kop uitsteek, is akute stresversteuring (ASV) en posttraumatiese stresversteuring (PTSV). ASV en PTSV het soortgelyke simptome soos onophoudelike gedagtes oor die insident, herlewing van die gebeure, vermyding van spesifieke plekke, mense of aktiwiteite wat aan die trauma herinner, sowel as ander simptome soos verhoogde angs of afgestompte emosies. Die verskil tussen dié twee stresversteurings is die aanvang van simptome. Simptome van ASV verskyn gewoonlik onmiddellik ná die traumatiese gebeurtenis en duur nagenoeg drie dae tot ’n maand lank. As dit nie behandel word nie, kan ASV omskakel in PTSV, wat ’n langtermyntoestand is.

Volgens lede van die AfriForum-traumaeenheid staar dié eenheid verskeie uitdagings in die gesig wanneer dit kom by trauma-ontlonting. In sekere gevalle is slagoffers van plaasaanvalle, ten spyte van hul trauma, onwillig om aan ontlontingsessies deel te neem. Dit is te verstane aangesien slagoffers dikwels glo dat berading of trauma-ontlonting die wonde van die traumatiese gebeure weer kan oopvlek.

Tog is dit noodsaaklik dat gemeenskappe kennis moet dra van die waarde van ontlonting ná ’n plaasaanval. Kenners is dit eens dat ontlonting uiters nuttig en noodsaaklik is om die langtermyngevolge van trauma die hoof te bied. Daar moet wel in gedagte gehou word dat ontlonting nie onmiddellik ná afloop van ’n insident gedoen kan word nie (72 uur is die ideaal), aangesien dit oorweldigende fisieke en neurologiese reaksies op die mens se liggaam tot gevolg het.

Gemeenskappe moet boere aanmoedig om vir berading te gaan ná ’n plaasaanval. Daar is nie ’n manier dat boere ná ’n aanval net kan voortgaan met hul sake asof niks gebeur het nie. Dit is nie net die boere wat baat by hierdie genesingsproses nie, maar ook die hele gemeenskap aangesien hierdie gemeenskap, of hulle nou bewus is daarvan of nie, afhanklik is van boere.   

Kontak die AfriForum-traumaeenheid

Soortgelyke plasings