Toekoms van Saldanha se Vingerhoedhuisie in gedrang
Vir besoekers aan en inwoners van Saldanha is die Vingerhoedhuisie op die hoek van Kamp- en Manitokastraat ’n bekende baken. Lede het AfriForum ingelig van planne om dié huisie te sloop en woonstelle op die erf te bou.
Vir sommige inwoners is dit baie hartseer nuus. Volgens die erfenisimpakverslag is soveel strukturele veranderinge deur die jare aan die gebou aangebring dat dit nie meer bewarenswaardig is nie. Volgens ’n kenner van die plaaslike omgewing en geskiedenis, Edwin Dwyer, is dit egter nie waar nie.
Volgens hom is die enigste veranderings normale instandhouding, soos dat die oorspronklike rietdak mettertyd vervang en die huis se mure opgeknap en geverf is. Al wat verder bygekom het, is diefwering wat aangebring is, asook dat ’n muur om die huis gebou is om kwaaddoeners en inbrekers uit te hou. Dit is steeds in ’n goeie toestand. Binne is moderne vloerteëls, plafonne en badkamergeriewe aangebring, maar dit beïnvloed nie die struktuur self nie.
Dwyer is ’n omgewingskundige, natuurbewaarder en geregistreerde gids wat al sedert die 1990’s navorsing oor Saldanha se geskiedenis doen. Hy sê die dorp se historiese geboue beteken baie vir die inwoners en hou ook ’n groot aantrekkingskrag vir toeriste in. Jaarliks begelei hy vele toeriste op erfenistoere deur die dorp en hy het dus eerstehandse ervaring van mense se waardering vir die unieke argitektoniese erfenis aldaar.
“Toerisme lei tot ’n ekonomiese inspuiting vir die omgewing. Die geboue is deel van wie ons is. Dit vorm deel van ons verlede en juis daarom is ek en vele ander dorpenaars ontsteld dat die Vingerhoedhuisie nou moontlik gesloop gaan word. Naas die Anglikaanse kerk wat in 1820 gebou is, is die huisie een van die oudste geboue in Saldanha,” sê Dwyer.
Ongeag of die gebou argitektonies van unieke waarde is of nie, die herinneringe aan die huisie, die kleurryke inwoners daarvan en die vele gebruike waarvoor dit al aangewend is, is ’n kosbare deel van die omgewing se kultuurgeskiedenis.
Skynbaar is die erf waarop die huisie staan in 1914 deur die Saldanhabaai-hawe en Spoorwegmaatskappy bekom. Op Facebook deel mense hulle herinneringe aan die huisie in vervloë jare. Een persoon beweer dat die oorspronklike dubbelverdieping gedeelte gebou is met materiaal wat van ’n skeepswrak afkomstig was.
Tannie Hester (beter bekend as Tossie) Basson wat in 1929 gebore is, onthou die tyd toe die Tolkens twee melkkoeie daar aangehou het en dit as ’n melkery bedryf het.
Dan was daar ook die Sadies. Hulle het sedert die 1800’s op twee aangrensende plase in die omgewing, naamlik Agerklipvlei en Voorklipvlei geboer. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hulle die plase verlaat (dit klink asof dit toe deur die weermag in gebruik geneem is) en die kinders moes ’n tyd lank by hul ouma in die Vingerhoedhuisie bly.
In die 1960’s het die Binnemans daar gewoon. Oom Daantjie Binneman het hare gesny. Vir jong seuns was die eerste haarsny by Oom Daantjie ’n belangrike oomblik op die grootwordpad. Sy seun, Royston, het die jongelinge van die buurt se oë laat blink met sy motorfietse. Hy was skynbaar ’n spoedvraat wat die dorp se spietkop ontstig het en noue ontkomings met sy ysterperde gehad het. Dit het ’n Ariel Arrow en later ’n BSA Thunderbolt 650 ingesluit. Hy het verder vir opwinding in die buurt gesorg omdat hy slange in die Vingerhoedhuisie se agterplaas aangehou het. Daar word genoem van ’n keer toe slange ontsnap het en groot konsternasie tot gevolg gehad het!
Tans staan die gebou leeg. Kennisgewing van die beplande sloping is by die huisie aangebring, maar die meeste belangstellendes het baie laat eers daarvan kennis geneem. Dwyer bedryf byvoorbeeld al jare lank die webtuiste www.saldanhanature.co.za en Facebook-blad, Saldanha Nature & History, maar is nie oor die raadplegingstyd in kennis gestel nie. Toe hy daarvan uitvind, het hy sy kennis en hulp aan die betrokke skrywer van die impakstudie en die munisipaliteit aangebied, maar geen reaksie ontvang nie.
“Ek kon ook geen plasing om inwoners se insette te vra op Saldanha News and Advertising se Facebook-blad opspoor nie. Die eerste nuus daaroor was toe ’n lid van die publiek teen die einde van die proses daarvan bewus geraak het.”
Net nege kommentare is binne die wetlik vereiste 30 dae wat op 16 Junie 2023 verstryk het, ontvang. Die aansoek om ’n slopingspermit is by die Wes-Kaapse afdeling van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap ingedien. Daar kan dus nie in hierdie stadium gesê word of die gebou gesloop gaan word of nie.
Indien besluit word om wel die permit uit te reik, het alle belanghebbende partye 14 werksdae om te appelleer. Die verantwoordelike het onderneem om AfriForum en almal wat kommentaar gelewer het, in kennis te stel van die besluit.
Indien die gebou behou kan word, is die vraag waarvoor dit aangewend gaan word? Die huidige eienaar sal bereid moet wees om dit te verkoop en iemand om dit te koop.
Van die lede meen dat Saldanha ’n eie museum benodig, maar daarvoor sal fondse en personeel nodig wees, asook iemand wat bereid is om die projek te bestuur. Dalk is daar ander opsies vir die restourasie en gebruik daarvan.
Hoe dit ook al sy, hierdie idees moet solank oorweeg en beplan word, sodat die appèl ook met konkrete en uitvoerbare voorstelle gepaard sal gaan.
Indien jy wil deelneem as ’n appèlproses nodig sou wees, laat weet AfriForum en ons sal jou ingelig hou hieroor. Enige foto’s of inligting oor die huisie se geskiedenis kan ook gestuur word aan alana.bailey@afriforum.co.za. Hopelik kan die Vingerhoedhuisie, of ten minste die herinneringe daaraan, vir die nageslag behoue bly.