|

Tien uit tien vir Keimoes-buurtwag: Só pak dié buurtwag misdaad

AfriForum se Keimoes-buurtwag verdien ’n stewige tien uit tien vir die aksies wat dié groep vrywilligers die afgelope maand aangepak het om die spreekwoordelike veiligheidsbul in die Kai !Garib Munisipaliteit by die horings te pak.

Hier is tien maniere waarop dié relatiewe klein buurtwag, wat die Kenhardt-, Kakamas- en Keimoes-gemeenskappe bedien, onlangs die stryd om dié gemeenskappe vry van misdaad te hou, getakel het: 

  1. Daaglikse patrollies

Patrollies word daagliks vanaf 21:00 tot 05:00 aangepak en verseker sodoende sigbare polisiëring gedurende die ure waarin misdadigers meestal toeslaan. Die buurtwag het ook gedurende Oktober op sewe oproepe om hulp gereageer. Hul flinke optrede beteken dikwels dat dié buurtwag eerste op die toneel kom en sodoende ook kan help om misdade wat in proses is, te keer.

  1. Koperkabeldiewe vasgetrek

Dié buurtwag het gedurende Oktober en in die eerste twee weke van November reeds daarin geslaag om sewe insidente van koperkabel- en koperkraandiefstal suksesvol hok te slaan. Die beskuldigdes en gesteelde koperware is in elkeen van die sewe gevalle aan die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig.

  1. Sluipslapers verwyder

Sluipslapers, oftewel stoepslapers soos wat dit ook in die gemeenskap bekendstaan, veroorsaak besighede en gemeenskapslede dikwels kopsere. In sekere gevalle is van dié sluipslapers al suksesvol verbind met misdade wat in die gebied gepleeg is, terwyl daar ook al telkens gevaarlike wapens en verskeie dwelmmiddels in hul besit gevind is. Die Keimoes-buurtwag het sedert Oktober hierdie kwessie in samewerking met die SAPD getakel en verwyder soms tot tien sluipslapers per aand. Die buurtwag het intussen, met die hulp van ’n plaaslike staatsaanklaer, namens die besigheidseienaars ’n skrywe opgestel om die sluipslapers te verbied om op winkelstoepe te oornag. ’n Afskrif van dié skrywe is op 17 Oktober aan die Keimoes SAPD oorhandig.

  1. Sonpaneeldiefstal gefnuik

Die verhoogde gebruik van sonkrag het die voorkoms van diefstal van sonpanele ook in die Keimoes-gemeenskap laat toeneem. Teen die einde van Oktober het die Keimoes-buurtwag se flinke optrede ’n sonpaneeldiefstal suksesvol gefnuik. Hoewel die diewe nie daarin kon slaag om die panele te steel nie, het hulle laat spaander voordat die buurtwag hulle kon aankeer.

  1. Vyf buurtwagoperasies lei tot groot sukses

Gedurende Oktober en tot dusver in November is daar reeds vyf spesiale operasies deur die Keimoes-buurtwag aangepak. Hiertydens is beslag gelê op verskeie gevaarlike wapens sowel as gesteelde eiendom.

  1. Slangvanger van formaat

Hoewel die Keimoes-buurtwag hulle toespits op meer menslike “vyande” wat die veiligheid van gemeenskapslede bedreig, het ’n meer koudbloedige skurk op 17 Oktober ook sy opwagting in ’n huis in Keimoes gemaak. ’n Dapper Keimoes-buurtwaglid, Nelius Geel, het egter die gemeenskapslid te hulp gesnel en die Kaapse kobra moeiteloos verwyder en in die natuur vrygelaat. 

  1. Oproeriges in toom gehou

In verskeie gevalle waar oproeriges die rustigheid van die buurt versteur het, is die Keimoes-buurtwag ingeroep om die sake te beredder. In sekere gevalle het die buurtwag ook die hulp van die polisie ingeroep om oproeriges in toom te bring.

  1. Padveiligheid

Die veiligheid van paaie in die gemeenskap is ook vir die Keimoes-buurtwag van groot belang. So is daar byvoorbeeld teen die einde van Oktober ’n persoon wat verdink is daarvan dat hy bestuur onder die invloed van alkohol, aangekeer en aan die polisie oorhandig. Die buurtwag het ook in die afgelope maand en ’n half waardevolle bystand verleen by twee ongelukstonele en onder meer hulp verleen met die regulering van die verkeer.

  1. Vermiste persoon

Die Keimoes-buurtwag se hulp is vroeg in November ingeroep om ’n vermiste persoon van Keimoes te help opspoor. Die middeljare vrou is ná ’n wye soektog ongedeerd gevind.

  1. Landelike veiligheid

Landelike veiligheid vorm ook ’n belangrike deel van die Keimoes-buurtwag se strategie. Diefstal vanaf plase is een van die grootste uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word. Die Keimoes-buurtwag kon egter in Oktober met groot sukses toeslaan op ’n groep van 16 verdagtes wat lusern by plase in die omgewing gesteel het. Die voer is intussen terugbesorg aan die boere.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se provinsiale koördineerder van die Noord-Kaap, is die suksesse te danke aan ’n ongekende verbintenis wat die AfriForum-buurtwaglede tot die beskerming van hul gemeenskap het. Hy het ook die Keimoes-stasiebevelvoerder en polisielede geprys vir hul samewerking met en bystand aan die buurtwag en beklemtoon dat samewerking nie net tot die voordeel van die gemeenskap strek nie, maar operasionele mag verhoog en die uitruil van inligting na ’n nuwe vlak neem.

“AfriForum is baie trots op die Keimoes-tak. Hulle is ’n bewys daarvan dat dit nie gaan oor die grootte van jou dorp nie. As almal inspring en help sal daar ’n positiewe uitkoms wees. Ons bedank die tak vir hul harde werk in Keimoes,” beklemtoon Strauss.

Soortgelyke plasings