AfriForum-buurtwag waak oor Piet Retief
AfriForum se Piet Retief-buurtwag het op 23 Februarie ’n massapatrollie gehou om sigbaarheid in die dorp te verhoog en hierdeur misdadigers af te skrik. Piet Retief gaan gebuk onder verskeie misdade waaronder kabeldiefstal en inbrake. Tydens die patrollie is geen ernstige misdade op die dorp aangemeld nie, wat ’n bewys daarvan is dat patrollies soos dié misdadigers uit die dorp hou.
Die patrollie is ondersteun deur onder meer 22 patrolleerders van AfriForum se Piet Retief-buurtwag, nege lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), twee lede van die plaaslike verkeersdepartement en twee lede van ACSU-sekuriteit se Piet Retief-tak.
Gedurende die patrollie het die SAPD ’n voertuig afgetrek wat moontlik betrokke was in voorvalle waar eiendomme se elektrisiteit afgeskakel is. Die voertuig is deursoek maar niks verdag is gekry nie. Die voertuig se papierwerk was wel nie voldoende nie en die SAPD het die voertuig met ’n waarskuwing laat gaan. Verder het die plaaslike verkeersdepartement verskeie boetes vir verkeersoortredings deur die nag uitgereik.
“Hierdie patrollie het sy doel gedien. Daar is geen insidente of misdade gedurende die nag aangemeld nie wat bewys dat misdadigers eerder tuisbly as lede in die strate patrolleer,” sê Jacques Muller, leier van AfriForum se Piet Retief-buurtwag.
Inwoners word versoek om AfriForum in Piet Retief te ondersteun: Besoek: www.wordlid.co.za.