|

Talle rioolstortings moet boaan Emalahleni se GOP wees

Die instandhouding van Emalahleni (Witbank) se rioolnetwerk het tot so mate versleg dat daar gedurig verstopte pype is en rampspoedige rioolstortings in die Olifantsrivier plaasvind. Die besoedeling van natuurlike hulpbronne is ’n kriminele oortreding, daarom het AfriForum se Witbank-tak versoek dat die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit hierdie probleem so gou as moontlik oplos voordat dit menselewens in gevaar stel.

Dít is een van die skriftelike kommentare wat hierdie AfriForum-tak op die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien het. ’n Deelnameproses word jaarliks in munisipaliteite landwyd gehou waartydens belanghebbende organisasies en die publiek aanbevelings kan maak vir dit waarvoor munisipaliteite in die daaropvolgende jaar moet begroot. AfriForum-takke landwyd neem ook aan die proses deel om hierdeur lede se stem te laat hoor en druk op munisipaliteite te plaas om dienslewering op spesifieke terreine op te skerp.

Die Witbank-tak het onder meer kommentaar gelewer op die munisipaliteit se finansiële situasie en die gebrek aan die behoorlike bestuur daarvan. Luidens die ouditeur-generaal se jongste verslag moes die munisipaliteit teen einde van die 2021/2022-finansiële jaar altesaam R468 miljoen tot sy beskikking gehad het. Dit is egter verbysterend dat hierdie gelde nie aan Eskom betaal is nie, aangesien die munisipaliteit diep in die rooi is by die kragvoorsiener.

“Emalahleni se skuld by Eskom word elke maand meer, tog versuim die munisipaliteit om enige verantwoordelikheid hiervoor te neem en die rekening te vereffen,” sê Alfred Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Dit tak het ook versoek dat die paaie in Emalahleni herstel word. Slaggate neem bykans die stad oor en voertuie doen ernstige skade op wanneer hulle daardeur ry. Verder is daar gevra dat parke en velde in die gebied onderhou word sodat boosdoeners nie verder in die hemelhoë gras kan skuil nie.

“Die munisipaliteit moet begin om sy verantwoordelikheid aan die gemeenskap na te kom. Inwoners betaal vir dienste wat nie gelewer word nie, in stede word die geld verkwis,” sluit Friess af.

Inwoners wat wil deel word van AfriForum se Witbank-tak kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings