|

Talle Bloemfonteiners wil Mangaung-vullisdienste kanselleer; AfriForum handig dié aansoeke in en plaas metro op terme

AfriForum se Bloemfontein-tak het die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit op terme geplaas oor die volgehoue swak bestuur van vullisverwyderingsdienste in die gebied. Dit volg nadat meer as 700 inwoners in die Bloemfontein-omgewing aansoek gedoen het vir vrystelling van die Mangaung-metro se vullisverwyderingsdienste. AfriForum het dié aansoeke, asook ’n finale aanmaningsbrief, op 31 Januarie aan die munisipaliteit gestuur.

Terwyl die Manguang-metro alreeds nie in staat is om voldoende dienste te lewer nie – met ’n tekort aan brandstof wat dienslewering sedert 28 Januarie nóg verder belemmer – sal AfriForum steeds proaktief optree om gemeenskappe te ondersteun. “Ons het die afgelope week nuwe vullisdromme by huishoudings afgelewer wat by AfriForum se vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein aangesluit het,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

Die Manguang-metro se gebrek aan doeltreffende dienslewering aan inwoners is ’n ernstige probleem wat nie langer geïgnoreer kan word nie. Die huidige afvalbestuurskrisis vereis veral dringende aandag en die metro se versuim om op te tree, is onaanvaarbaar. AfriForum moedig inwoners, wat nie meer van dié munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste gebruik wil maak nie, aan om aansoek vir kansellasie daarvan in te dien. Inwoners sal gevolglik in staat wees om van private diensverskaffers gebruik te maak.

AfriForum tree nie net as ’n diensverskaffer optree nie, maar veg ook aktief vir sy lede se regte. “Ons ignoreer nie AfriForum-lede se aansoeke vir kwytskelding van munisipale vullisverwyderingsdienste nie en sal voortgaan om hul belange te verdedig. Inwoners en belastingbetalers in die Mangaung-metro het die reg om te kies watter dienste hulle wil gebruik. Hulle verdien ’n vinnige en doeltreffende oplossing vir die uitdagings wat hulle ondervind,” sê Groenewald.

Indien die Mangaung-metro nie teen 14 Februarie ’n bevredigende reaksie op AfriForum se brief lewer nie, sal AfriForum verdere stappe ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid oorweeg.

AfriForum sal voortgaan om inwoners van Bloemfontein en omliggende gebiede in kennis te stel van verdere verwikkelinge in hierdie verband en moedig hulle aan om hul regte te gebruik om ’n beter diens te eis.

Volg dié skakel om jou munisipale vullisverwyderingsdienste te kanselleer en by AfriForum se vullisverwyderingsdienste aan te sluit: www.vullisverwydering.co.za.

Soortgelyke plasings