Tablette vir skole is “pleister” om onderwyswonde te verberg
Die Gautengse LUR vir onderwys se plan om tablette ter waarde van R1,2 miljard aan duisende matrikulante in townshipskole uit te deel, is soos om ’n pleister te probeer plak op die onderwyswonde in die land.
Só meen prof. Elda de Waal, onderwyskundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
De Waal het gesê sy het groot waardering daarvoor dat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, besef iets moet aan die gehalte van onderrig in openbare skole gedoen word.
“Die vraag is egter of tablette die beste manier is om dit te doen. Ek dink hy begin by die verkeerde plek. En het hy gedink aan wat gaan gebeur as die tablette gesteel word of verlore raak?”
De Waal het ook ernstige vrae oor of leerlinge én onderwysers hiervoor gereed is. “Mens dink baie keer jonges is tegnologies gevorderd. Maar dit is nie altyd so nie en as onderwysers nie baie ekstra opleiding kry nie, sal hulle nie leerlinge met die gebruik hiervan kan help nie.”
De Waal is ook geskok oor die hoeveelheid geld wat aan die projek bestee gaan word. “Sou dit nie veel beter gewees het om dié geld te gebruik om skole beter te beplan en te bou vir die toekoms nie aangesien die vraag na onderrig in Gauteng nie afneem nie,” wou sy weet.
Sy het gesê dit is goed en wel dat Lesufi hom vir “papierlose” skole beywer, maar soveel skole se ablusiegeriewe is in haglike toestande en moet eerder aandag kry.
De Waal meen daar moet ook in die lig van probleme rondom elektrisiteit en beurtkrag gekyk word of tablette die slimste manier is om leerlinge toegang tot onderrig te gee.
Prof. Rika Joubert, ’n onafhanklike onderwyskundige van Pretoria, het ook ernstige voorbehoude oor die tablet-projek.
Sy het verwys na tablette wat al voorheen aan skole uitgereik is en nadat dit gesteel is met ’n spesiale opsporingsmeganisme toegerus moes word.
Joubert het ook vrae oor miljoene rande wat aan kontrakte vir handboeke bestee word en meen belastingbetalers is geregtig om te weet of dit nou in die toekoms gestaak gaan word. ’n Ander kwelling is wat gedoen word om leerlinge van bykomende leermateriaal te voorsien aangesien nie alle studiemateriaal elektronies beskikbaar is nie.
Joubert wou ook weet hoe die onderwysdepartement gaan voorkom dat leerlinge die tablette vir persoonlike gebruik op sosiale media misbruik, dit byvoorbeeld in boeliery inspan waar hulle foto’s van mekaar neem of ongeoorloofde webtuistes besoek. “Al die vrae kom by mens op, terwyl die LUR tydens sy besoek aan skole leerlinge selfs aangemoedig het om foto’s van hulself te neem…”
Joubert wat jare lange navorsing oor onderpresterende skole in Gauteng gedoen het, meen ook daar is ernstige vrae oor of onderwysers enigsins toegerus sal wees om tablette in onderrig te gebruik en leerlinge daarmee te help. “Talle onderwysers is steeds nie in staat om die sogenaamde slim- of witborde te gebruik nie, wat nog te sê van meer gevorderde tegnologie.
“Voorts is dit ook algemeen bekend hoe lank dit neem om byvoorbeeld ’n enkele les met behulp van tegnologie voor te berei. Onderwysers gaan dit eenvoudig nie doen nie.”
Joubert het voorts gesê dit is verregaande dat soveel geld aan tablette bestee kan word, terwyl dit pas aan die lig gekom het dat 1 uit 4 openbare skole wiskunde as vak aanbied. “Sou dit nie meer sin maak om eerder wiskunde-onderwysers op te lei nie?”
Joubert meen tegnologie kan net ’n hulpmiddel in onderrig wees. Dit kan nooit onderwysers en gehalte-onderrig vervang nie.
Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê die organisasie verwelkom dit dat meer aandag daaraan gegee word om leerlinge meer beroepsgerigte opleiding te gee met die nodige tegnologiese toebehore. “Ons hoop egter dat alle leerlinge uit moeilike maatskaplike omstandighede toegang hiertoe sal hê en nie net sekeres nie.”
Bloem meen tablette kan tot ’n mate ’n teenvoeter wees vir die probleem van handboeke wat nie by skole afgelewer word nie.
Lesufi het aangekondig dat meer as 61 000 matrikulante in townshipskole van vandag af tabletrekenaars sou kry. Altesame 375, hoofsaaklik arm skole, is vir die projek geïdentifiseer, terwyl meer as 8 000 onderwysers glo opleiding gekry het om die toestelle te gebruik.