|

Taal Tel 13 – Johann Dannhauser en die Geloftefeeskalender

In die laaste aflewering van Taal Tel in 2023 maak ons hierdie keer ’n draai by Johann Dannhauser in Orania, waar hy en sy vrou, André, die afgelope 10 jaar woon. Johann het sy beroepsloopbaan in die diplomatieke diens in Pretoria begin, waartydens hy ook deeltyds sy doktorsgraad in Staatsleer (deesdae bekend as Politieke Wetenskap) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het.

Hy het latere jare uitgewyk na die privaatsektor in Bloemfontein en bedryf die afgelope sowat 35 jaar sy eie koerantonderneming. Een van die koerante is die Ditsem Nuus, wat hy as Afrikaanse koerant in 2008 begin het en wat maandeliks versprei is in Bloemfontein, Kimberley en Welkom, asook sowat twaalf dorpe in die sentraal-Vrystaat en noordelike Noord-Kaap.

Johann vertel dat die publikasie van Ditsem Nuus met die Covid-inperkings in 2020 gestaak is, maar sedertdien stuur hy op weeksdae die elektroniese nuusbrief DitsemBlits uit. Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het met hom gesels.

Ons wil graag vandag gesels oor die Geloftefeeskalender wat jy jaarliks saamstel. Dit is na ons wete die volledigste gids van Geloftefeeste wat bestaan. Hoe het dit begin?

In 2009 het dit by my opgekom om in die koerant ’n lys van Geloftefeeste vir daardie jaar te publiseer. Met navorsing is 35 Geloftefeeste met hul basiese besonderhede gelys. Ek het ook borgskappe vir die projek gewerf en in die proses by onder andere jou by AfriForum en dr. Danie Langner van die FAK uitgekom. Julle was dus van die begin af aanboord.

As ’n voetnota, my ouers het in die Heilbron-distrik geboer en so het ek gereeld die Geloftefees by Vegkop bygewoon en onder die indruk gekom van die betekenis van die Gelofte van Bloedrivier. Die nakoming van ’n gelofte aan God is ononderhandelbaar en dit geld ook die voortbestaan van die Boerevolk vandag.

Sedert 2009 kon die Geloftefeeskalender nog elke jaar gedoen word en het dit ook elke jaar gegroei, tot waar vir vanjaar 208 Geloftefeeste en -dienste gelys is.

Dit is wonderlik dat die belangstelling so groei. Vertel ons meer oor vanjaar se Geloftefeeskalender – wat is nuut?

Mettertyd het Gelofteherdenkings onder ons mense in die buiteland begin bykom en vanjaar is daar inligting oor twee Geloftevierings in Namibië, vier in Australië, twee in Nieu-Zeeland en twee in die VSA gelys. Dit het die gedagte laat ontstaan om al die Geloftefeeste en -dienste ook op ’n interaktiewe wêreldkaart te vertoon.

Daar is soveel van ons volksgenote in die buiteland – die diaspora – en hoewel van hulle daar met nuwe lewens begin het, kry jy nie die wortels in en die verlange na Suid-Afrika met sy unieke eienskappe heeltemal afgesny nie. Die tema van die “kinders” wat weer huis toe kom, loop soos ’n goue draad deur die Bybel en daarom kan dit ook vir die Boerevolk waar wees.

Dus is ’n groot motivering vir die Gelofte op ’n interaktiewe wêreldkaart die hoop en geloof dat dit sal bydra as ’n saambindingsfaktor vir ons versplinterde volk. Daar is byvoorbeeld nog geen Gelofteherdenkings gelys vir Europa, Brittanje, Kanada en elders nie. Mag dit nog realiseer.

Wat is mense se reaksie op die Kalender?

Baie positief. Nie net neem die aantal Geloftefeeste en –dienste waarna verwys word in die Geloftefeeskalender elke jaar toe nie, maar daar is ook ’n sterker intensiteit waarneembaar waarmee volksgenote die Gelofte herdenk.

Mense besef dat, net soos by Bloedrivier destyds, dit net die Here is wat ons uit hierdie aaklige omstandighede kan red. Die noodsaaklikheid word besef van verootmoediging voor God, maar dan ook om in geloof te doen wat jy van jou kant kan en moet doen.

Wat veral ’n riem onder die hart is, is dat baie van ons mense onder uiters uitdagende en stresvolle omstandighede Geloftefeeste reël en dit bywoon. ’n Mens dink byvoorbeeld aan boere in die noorde van die land en op ander plekke wat toegewy hul organisering doen te midde van plaasaanvalle en ondanks ’n vyandiggesinde regering.

’n Bemoedigende verskynsel is dat ’n aantal nuwe Geloftefeeste vanjaar hul verskyning in die Wes-Kaap gemaak het, soos byvoorbeeld in die Paarl, Hermanus en Vredenburg.

Wat is jou raad aan iemand wat ’n Geloftefees wil begin reël?

Begin dit klein, nooi ’n aantal mense wat jy weet of dink ’n gevoel het vir die Gelofte van Bloedrivier om jou met ’n Gelofteherdenking op 16 Desember te ondersteun. Kry ’n geskikte plek vir samekoms en stel ’n basiese program op.

’n Program kan bestaan uit lofsang tot die Here, ’n vertelling of video van die geskiedenis en gebeure van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier, die lees of luister na die bewoording van die Gelofte, iemand wat die betekenis daarvan in die hedendaagse konteks kortliks kan verduidelik, asook miskien ’n predikant wat ’n boodskap uit die Bybel kan koppel aan die Gelofte en kan voorgaan in verootmoedigende gebed.

Daar is ook video’s oor die Gelofte, die Gelofte in sang en musiek, Die Stem in woorde en musiek en ander gepaste liedere met woorde en musiek soos Die lied van Jong Suid-Afrika beskikbaar wat van ’n geheuestokkie op ’n TV-skerm gespeel kan word.

Hoewel daar geen werklike plaasvervanger is om fisies in persoon ’n Gelofteherdenking by te woon nie, het Afrikaners op verskillende plekke in die VSA gereël om op 16 Desember deur Zoom-verbinding saam die Gelofte te herdenk.

Hoe kan mense die Geloftefeeskalender ondersteun?

Sonder die finansiële ondersteuning van ons borge, wat erkenning op die Geloftefeeskalender kry in die vorm van advertensieruimte ooreenkomstig met die grootte van die bydrae, sou die kalender nie moontlik gewees het nie. Desondanks het ons vanjaar, veral met die interaktiewe kaart wat bygekom het, op ’n onvermydelike verlies gewerk.

Laat my derhalwe toe om ook van hierdie geleentheid gebruik te maak om ons borge van harte te bedank en opregte waardering teenoor hulle uit te spreek. In dieselfde asem, vir inligting oor die kalender en advertensies, skakel gerus 082 773 2150 of stuur ’n e-pos aan gelofte@ditsem.net.

Indien iemand bloot ’n donasie wil maak as deel van die konsep van skarefinansiering, kan dit gedoen word by: DitsemBlits, Standard Bank, rekeningnr. 140 320 105, met as verwysing die donateur se voorletter, van en selnommer. Ons bedank graag elke ondersteuner.

Baie dankie Johann, ons bedank jou vir die kosbare inisiatief wat dit moontlik maak vir soveel mense om ’n fees in hulle omgewing te vind. Mag die Geloftefeeskalender net van krag tot krag gaan! Ons wens jou en al die lesers ’n geseënde Geloftedag toe!

Soortgelyke plasings