Swart en wit rassisme vandag
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum
Daar het onlangs ’n interessante en bykans ongewone artikel in The Sunday Times verskyn en dit het amper ongesiens deur sowel gewone mense as die kommentariaat gegaan. Hierdie gebrek aan verdere bespreking van die akademikus William Gumede se artikel – getiteld ‘Black victimhood’ is a ready option that covers multiple sins – is egter nie vreemd nie, gesien in die lig van die politiek-korrekte tydsgees waarin ons onsself bevind.
Dit is min dat swart kommentators sulke rubrieke skryf en The Sunday Times het die land en sy grotendeels swart lesers ’n guns bewys deur dit op die middelblad te publiseer. Die artikel kan ook op BusinessLive gelees word, indien u sou belangstel. Ek beveel dit sterk aan.
Ter wille van ruimte en tyd gaan ek slegs opsommende opmerkings uit die rubriek aanhaal. Meeste van dit is nie nuut nie, maar die feit dat Gumede dit so rondborstig stel is nogal verrassend en selfs verfrissend. Volgens Gumede word die ANC sentralisties bedryf en dink die party hulle is bo die reg verhewe – wat in sekere gevalle seker wel ongelukkig waar is. Hulle is korrup en stel mense in die staat en privaat sektor aan op grond van hul struggle-geloofsbriewe en nie oor hul vermoë nie.
Dan gaan hy voort en sê dat baie ANC-ondersteuners steeds saamgaan hiermee bloot oor rasse-solidariteit. Misplaaste swart solidariteit verg dat twyfelagtige mense omarm en beskerm moet word. “If a white person rightly criticises a corrupt black person, the corrupt person is embraced. Misplaced struggle solidarity has the same effect. If a non-ANC person, or an opposition party member or supporter criticises a corrupt ANC leader, the corrupt ANC leader is protected. If a black person is doing the criticism, he or she is a ‘puppet’ of whites or ‘white monopoly capital’ and ‘selling out’ their race,” skryf hy.
Hy voer aan dat feitlik elke verkeerde regeringsbesluit en mislukking deur huidige leiers op apartheid, kolonialisme of vyandige Westerse state geblameer word. “Black leaders in government and the private sector are increasingly using colonialism, apartheid and Western ‘imperialism’ to cover their incompetence, mismanagement and corruption.” Hy doop dit dan tot die “maklike opsie” en baie belangrik, veroorsaak dat leiers en regerings hul verantwoordelikhede jeens kiesers en die publiek kan versaak.
Waarheen is ek op pad hiermee? Soos ek gesê het is dit min dat iemand (op die koop toe ’n swart persoon) só ’n artikel skryf en dit het nie naastenby die interaksie of verdere gesprek ontlok wat dit moes nie. Daar is baie wit joernaliste en kommentators wat bloot hul “wit skuld” bely sodra hulle die kans kry. Hulle is tipies te bang om enigsins verder oor Gumede se skrywe te skryf wat hoegenaamd saamstem met hom uit vrees dat hulle as rassiste gebrandmerk sal word (al is Gumede self swart). Swart kommentators stem dalk bloot nie saam nie of het ook dieselfde vrese as hul wit kollegas.
Dit is egter nodig dat ons ’n eerlike gesprek oor rassisme en wat dit is in hierdie land moet hê, want in hierdie stadium is hierdie debat en verskynsel ontsaglik eensydig en dubbele standaarde gedy. Dit is helaas al vir ’n wyle die geval. Swart rassisme is tot ’n groot mate genormaliseer en word dikwels openlik en met opset gepleeg. En slegs in sekere gevalle word die ergste oortreders – soos Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) – oor die kole gehaal en dalk gestraf. Nie net ly wit mense as indiwidue en groep hieronder nie, maar swart mense en trouens die sosiale kohesie ook omdat rassisme bloot ’n politieke slaanstok word, rassisme ’n plaasvervanger vir werklike oplossings is en verantwoordbaarheid by die venster uitgeslinger word.
Ek gaan glad nie ontken dat wit rassisme bestaan nie en ek keur dit ten sterkste af. Elke groep het rassiste, slegte mense en ook goeie mense. Daar is egter duidelike kwalitatiewe en kwantitatiewe verskille tussen wit en swart rassisme vandag. Daar is ook ’n reuseverskil in hoe gevalle van onderskeidelik wit en swart rassisme hanteer word.
Kom ons neem ’n paar voorbeelde in oënskou.
Sedert die begin van 2016 is Penny Sparrow die openbare gesig van wit rassisme en as ’t ware rassisme in die algemeen. Sy het in Januarie 2016 in ’n boodskap op haar persoonlike Facebook-blad na swart mense op Durban se strande as “ape” verwys. Twitter het skielik ontplof en sy is deur die media gekruisig. Duisende mediaberigte op die internet handel oor daardie inskrywing. Voordat die Menseregtekommissie (MRK) haar nog voor stok kon kry het die ANC haar reeds gelykheidshof toe gesleep. Sy is aan crimen injuria skuldig bevind en 12 maande gevangenisstraf of ’n boete van R5 000 opgelê. Dit was die ANC se redding in ’n verkiesingsjaar en haar naam word tot vandag toe nog in die media genoem as daar na rassisme verwys word.
Die ekonoom Chris Hart het uiteindelik uit sy pos by Standard Bank bedank ná politieke druk en reusemedia-aandag omdat hy in ’n twiet daarop gesinspeel het dat swart mense hulself toenemend as slagoffers sien en hierdie etiket dan misbruik (wat in wese die strekking van Gumede se onlangse artikel was). Die werklose Kaapse student Matthew Theunissen het die k-woord op sy eie sosiale media gebruik in verwysing na die huidige regering en het ook talle gevolge gely – selfs ’n verbale skrobbering deur Fikile Mbalula, huidige minister van vervoer en voormalige minister van sport, asook ’n straf deur die MRK. Al hierdie mense het om verskoning gevra.
Daarteenoor het Julius Malema in 2016 voor ’n skare buite ’n hof geskree dat hy “ten minste nie nou al” vir die slagting van wit mense gaan vra nie. Die MRK het hom in 2019 vrygespreek en gesê die historiese konteks en sy lidmaatskap van ’n kwesbare groep moet in ag geneem word. Dit skep die indruk dat jou verlede jou huidige wandade regverdig en dat veral magtige politici hiermee kan wegkom en aanhou doen.
Velapi Khumalo, wat vir die Gautengse departement van kuns en kultuur gewerk het, het op Facebook met ’n pistool gesê hy wil die land van wit mense reinig. Sy werkgewer het hom ’n waarskuwing gegee. Esethu Hasane was Mbalula se woordvoerder in 2017 toe hy gesê het daar moet ander straf vir wit mense wees as die droogte in die Wes-Kaap, want swart mense woon ook daar. Die nimlike Mbalula wat vir Theunissen gekruisig het, het Hasane nooit veroordeel nie en hy het geen ander straf ontvang of om verskoning gevra nie. Die voormalige minister Lulu Xingwana het op ’n Australiese TV-kanaal aangevoer alle Afrikanermans is moordenaars soos Oscar Pistorius.
Daar is nog heelwat sulke voorbeelde waar swart mense nie slegs rassisties optree jeens wit mense nie, maar geweld aanhits en dit boonop onbeskroomd, herhaaldelik en sonder verskoning doen – terwyl wit rassiste eerder beledigings sal uitdeel en dit weliswaar meer skelm doen. Ek weet nie van ’n wit rassis wat al durf waag het om openlik te sê wat Khumalo gesê het nie. Ek weet nie van een hedendaagse wit politikus of bekende persoon wat sal sê wat Malema al gesê het nie en dit boonop so openlik en straffeloos doen nie.
Hierdie wanbalans is glad nie gesond vir minderhede óf meerderhede nie, want dit spreek bloot nie die werklike probleme aan nie en wakker rassehaat aan. Die ANC se rassistiese beleide en stilmaak van kritiese stemme deur hulle as rassiste te brandmerk, asook die opkoms van die EFF se politieke mag, het die klimaat hiervoor geskep. Ons kan nie hierdie dubbele standaarde toelaat nie.