Swak, swakker, swakste, !Kai !Garib
Swak dienslewering duur voort in Kakamas, Keimoes en Kenhardt
Die !Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit wat verantwoordelik is vir dienslewering aan Kakamas, Keimoes en Kenhardt, blyk onwillig te wees om die gemeenskap se probleme oor dienslewering op te los. Die afgelope vier jaar was gekenmerk deur probleem op probleem in hierdie dorpe. Teerpaaie, vullisverwyderingsdienste, waterwerke en rioolwerke is in ’n haglike toestand en die munisipaliteit trek net skouers op.
Ondanks verskeie pogings deur die plaaslike AfriForum-takke om ’n helpende hand uit te steek kan Obakeng Isaacs, die munisipale bestuurder, nie eens die moeite doen om op AfriForum se aanbod te reageer nie. Verskeie optogte, aanmanings, petisies en skrywes aan die munisipaliteit val ook op dowe ore.
AfriForum doen maandeliks watertoetse en die water bly ongeskik vir menslike gebruik. Die burgerregteorganisasie het reeds klagtes hieroor by die Menseregtekommissie ingedien – die saak is na Kimberley verwys.
Die rioolwerke in al drie hierdie dorpe laat ook veel te wense. Riool loop in die strate en in mense se erwe. Daar is ook watertekorte en wanneer daar water is, is dit baie min of is daar ’n rioolreuk en bruin kleur aan die water. ’n Boer uit die gemeenskap het selfs al uit sy eie sak chloor gekoop toe die waterwerke nie gehad het nie. Die AfriForum-takke en sommige gemeenskapslede het ook al diesel gekoop vir die kragopwekkers by hierdie waterwerke.
“Benewens die geld wat gemeenskapslede reeds aan die munisipaliteite betaal vir dienste wat nie gelewer word nie moet hulle ook nou geld uithaal sodat hulle nie heeltemal in sonder water en kniediep in riool hoef te leef nie. Dis ’n skreiende skande dat mense hulle swaar verdiende geld moet spandeer om dienste te verrig waarvoor die munisipaliteit ’n begroting het maar steeds nie in staat is om te verrig nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Die munisipaliteit loop ook keer op keer bloutjies met onkundige of kriminele kontrakteurs en wanneer vra hieroor geopper word dan meld die munisipaliteit eenvoudig dat kontrakteurs wat nie die werk kon doen nie slegs geswartlys word en nie vervolg word nie.
“Die paaie in Kakamas, Keimoes en Kenhardt is ook in só slegte toestand dat dit dalk beter gaan wees om net uit die staanspoor grondpaaie te hê. Die paaie is vir 30 jaar nie onderhou nie en dit wys,” sê Strauss.
Volgens Strauss is tyd vir mooi praat nou verby. Dit is tyd dat die munisipaliteit hul kant moet bring tensy hulle wil sien hoe hierdie dorpe heeltemal agteruitgaan.