|

Sukses: Hof bevind die toestaan van mediese parool aan Jacob Zuma was onwettig danksy AfriForum

Die Konstitusionele Hof het vandag voormalige president Jacob Zuma se verlof tot appèl van die hand gewys en dus bevestig dat die mediese parool wat Arthur Fraser aan Zuma toegestaan het, onwettig was. Dít kom nadat die burgerregteorganisasie AfriForum en ander in 2021 ’n dringende hofaansoek teen ses respondente beteken het in die saak wat die vrylating van Zuma op mediese parool aangevat het. Die hof het ook beslis dat Zuma die regkoste moet betaal.

Die vraag wat nou oorbly, is of Zuma terug tronk toe moet gaan en of hy reeds sy vonnis uitgedien het al was dit buite die tronk weens ’n onwettige mediese parool. AfriForum se standpunt is egter dat Zuma terug tronk toe moet gaan om sy volle vonnis dáár deur te bring.

“Geen politikus mag bo die wet geag word nie. Die onwettige wyse waarop Zuma sy tronkstraf ontsnap het, beteken hy het nóg ’n vonnis wat hy agter tralies moet uitdien,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.