| |

Sukses: Aanrander skuldig bevind nadat privaatvervolgingseenheid ingryp

Oupa Chembe (52) het vandag in die Krugersdorp Landdroshof skuldig gepleit op ’n klag van aanranding op Zander Oosthuizen (19). Oosthuizen was ten tyde van die voorval in September 2021 in sy skoolklere en is klein gebou teenoor Chembe wat ’n groot man van byna twee meter in lengte is. Die privaatvervolgingseenheid het by die saak betrokke geraak nadat dit geblyk het dat daar tekens van onbehoorlike inmenging by die ondersoek was.

Die beweerde inmenging sluit laataandoproepe aan die klaer in, wat behels dat hy na die polisiestasie moes gaan om die saak te bespreek en selfs “afsprake” met die aanklaer om die saak te “skik”. Die saak is ook verskeie kere in die hof uitgestel wat tot verdere frustrasie van regspleging gelei het. Die saak is egter in Julie vanjaar aan adv. Jenna Downs, ’n aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), toegewys wat die saak goed hanteer het en vandag uitstekende argumente ter strafverswaring aangevoer het.

Chembe, wat skuldig gepleit het kragtens artikel 112(1)(a) van die Strafproseswet, is ’n boete van R3 000 of gevangenisstraf van drie maande opgelê. Hy sal ook voortaan ’n kriminele rekord hê.

“Ons is verheug dat die saak uiteindelik, ná ’n jaar van frustrasie, op ’n sinvolle wyse afgesluit kon word. Die feit dat ons kon verseker dat die reg sy gang gaan en kon toesien dat daar gevolge is vir kriminele gedrag, is nie net ’n oorwinning vir die klaer nie, maar ook vir geregtigheid,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die ongevraagde aanval het in die parkeerarea van die Key West-winkelsentrum in Krugersdorp plaasgevind en die privaatvervolgingseenheid kon beeldmateriaal van die voorval bekom om die saak teen Chembe te versterk.

Landdros Vivian Hawkins het in haar uitspraak daarop gewys dat die samelewing van mense verwag om hul humeur intoom te hou en dat dit die hof se taak is om die gemeenskap se vertroue in die howe te herstel. Sy het ook gesê dat die hof moet aanvaar dat die voorval trauma vir die klaer veroorsaak het.

“Ek is baie verlig dat die saak uiteindelik verby is. Dit was vir my belangrik om hierdie saak enduit deur te sien om te verseker dat geregtigheid geskied. Die feit dat die beskuldigde na afloop van die verrigtinge kom om verskoning vra het, het my gehelp om verdere afsluiting te kry. Ek is dankbaar vir die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid by hierdie saak, omdat hulle seker gemaak het dat dit nie net verdwyn nie,” sê Oosthuizen.

“Hierdie is ’n sprekende voorbeeld waar ’n klaer en sy familie met ’n verantwoordelikheidsbesef en deursettingsvermoë toegesien het dat geregtigheid geskied. Daar is vir geen oomblik geskroom om die nodige stappe te doen om die saak te laat voortgaan nie, insluitend die bereidwilligheid om in die hof te getuig,” sê Leask.