Suid-Afrikaners kan nie nóg ’n staatseksperiment bekostig nie

Deur Ernst van Zyl

Ons het almal al mense teengekom wat van die een projek na die ander spring maar sonder dat hulle grenslose ambisies ooit enige vrug dra. Vanuit ’n derde persoon se perspektief kan jy presies dieselfde gebreke in elke enkele skema sien, terwyl hulle jou steeds verseker “dié keer gaan dit anders wees”. Die groot verskil tussen daardie bekende scenario en die huidige penarie waarin Suid-Afrikaners hulle bevind met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op die horison, is dat die eerste scenario nie op jou swaar verdiende inkomste aangewese is om al daardie duur mislukkings te finansier nie.

’n Goeie uitdaging vir mense wat kompulsief nuwe boeke koop, is om hulself toe te laat om net een boek te koop vir elke drie boeke wat hulle gelees het. Ek reken hierdie beginsel moet ook op die ANC-regering toegepas word. Van die SA Lugdiens tot Eskom, die Poskantoor, die SAUK en openbare onderwys – die ANC-regering toon werklikwaar ’n deurlopende omgekeerde Midas-aanraking wat die bestuur van staatsbeheerde ondernemings betref. As ons voortgaan met hierdie groot-regering-groot-besteding-paradigma – en ek kan nie sien dat ons in die afsienbare toekoms daarvan ontslae gaan raak nie – is die minste wat Suid-Afrikaners kan doen, om van die staat te vereis om ’n duidelike vermoë te toon om sy speelgoed reg te hanteer voordat hy nog duur nuwe speelgoed kry. In die lig van die ANC se powere baanrekord dink ek dit is ’n heeltemal redelike vereiste van belastingbetalers. Totdat die ANC doen wat hy sê en lewer wat hy belowe, moet Suid-Afrikaners verseg om enige verdere duur skemas soos die NGV te finansier, waarvan die enigste doel blykbaar is om nog meer mag en beheer in die hande van die heersende elite te sentraliseer en sodoende die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) te bevorder. President Ramaphosa het onlangs belowe “Ons wil met ’n skoon skip in ons NGV-fonds vaar.” Ons moet regtig besorg wees omdat dit die heel eerste skoon ANC-skip in sy hele vloot sal wees.

As die ANC nie kan wys dat hy die vermoë het om staatshospitale doeltreffend te bestuur nie, moet hy nooit ’n mandaat kry om verdere riskante gesondheidsorgondernemings aan te pak nie. Dit kan hom noop om alternatiewe roetes te oorweeg om dieselfde doelwitte te bereik. Die enkele vernaamste bydraende faktor om breër toegang tot privaat gesondheidsorg moontlik te maak, bly ’n nasie se vlak van inkomste per capita. Die mees logiese alternatiewe roete om toegang tot privaat gesondheidsorg vir die hele samelewing te verhoog, is dus een wat fokus op ekonomiese groei, gepaard met ’n laer individuele belastinglas.

Ondervinding leer dat ’n monopolistiese stelsel soos die NGV inherent swak en wesenlik ondoeltreffend is, met die tipiese probleme wat met sulke onmededingende stelsels gepaardgaan: steeds stygende koste, dalende gehalte, ondoeltreffende hulpbrontoewysing en ’n onhanteerbare burokrasie. Om belediging by benadeling te voeg, sal die ANC se NGV ’n baie swakker en heeltemal onbekostigbare gesondheidstelsel meebring, terwyl daar van die reeds oorlaaide belastingbetalers verwag sal word om dit te befonds.

Maar dalk is die fundamentele kern van die probleem dat die ANC-regering net ongelooflik swak vaar met die bestuur en uitvoering van andersins goed ontwerpte regeringsprogramme en -stelsels. Die probleem lê dalk dieper: dat Suid-Afrikaners byna ’n eeu lank gekondisioneer is om te glo dat hulle ’n groot regering nodig het om al hulle probleme op te los. Die tyd het dalk gekom om hierdie narratief van die vaderlike staat en die kinderlike burgery te bevraagteken. Politici en burokrate het ons in hierdie afhanklike en hulpelose situasie laat beland, en daarom moet Suid-Afrikaners daaroor besin of die tyd aangebreek het óf om die ANC demokraties die deur te wys óf alternatiewelik om ons moue op te rol en stadig maar seker ons lot in ons eie hande te neem op hierdie sinkende skip.

Die voor die hand liggende oplossing van goeie regering en ekonomiese groei is in die hande van die ANC. As die Titanic egter nie van koers verander nie, kom ons begin dan ons eie probleme oplos deur klein reddingsbootjies te bou, een stap op ’n slag. Van buurte wat saamstaan om gemeenskapsveiligheidsnetwerke te bou, tot AfriForum wat slaggate opvul en padtekens verf, tot gemeenskappe wat betrokke raak om basiese gesondheidsdienste te verskaf – ons moet ons oorlewingskanse verbeter terwyl ons wag dat ’n politieke wonderwerk gebeur. Dit is nou tyd dat belastingbetalende Suid-Afrikaners standpunt inneem teen die NGV deur in die openbaar daarop aan te dring dat die ANC ophou om hulle droog te melk om enige verdere openbare bestedingseksperimente te befonds, waar die burgers die proefkonyne is. Dit is ’n algemene waarheid dat jy moet kruip voordat jy kan loop en loop voordat jy kan hardloop. Die ANC het nog nie gewys dat hy kan kruip nie, en tog verwag hy van ons om vir die duurste nuwe NGV-hardloopskoene ter wêreld te betaal.

Ernst van Zyl is ’n veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, ’n medeaanbieder op die Podlitiek-podgooi en gasheer van die Stream of Consciousness-onderhoudprogram op YouTube. Ernst plaas gewoonlik bydraes op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal (https://twitter.com/ConCaracal).

Soortgelyke plasings