Suid-Afrika brand, maar ons hou moed
Deur Mariaan du Toit
Elkeen van ons se harte het gebreek toe ons die verwoestende brande die afgelope week in die Vrystaat aanskou. Die voortslepende droogte in sekere dele van Suid-Afrika het talle boere in ’n krisis gedompel en plaasmoorde bly ’n alomteenwoordigendebedreiging. Boonop lê die gebeure in Senekal ook nog vlak in almal se geheue. Die boere moes reeds baie deurmaak – en nou dít. Maar soos die las op ons boere se skouers groter word, groei die gemeenskap se ondersteuning vir hulle ook.
Ons weet dat die brand by Herzogville glo deur betogers begin is wat onder meer oor – hoe ironies – water gekla het. Geen water kon egter die vuur blus wat die EFF in sy volgelinge se harte wou aansteek toe Mbuyiseni Ndlozi, dié party se woordvoerder, gesing het dat boere se grond moet afbrand nie. Dis met dieselfde vuur en haat dat die EFF ook die naweek se onteieningsverhore só ontwrig het dat dit nie kon voortgaan nie – en so gewone landsburgers ontneem van die reg om aan ’n openbaredeelnameproses deel te neem. Meer verregaande is die feit dat die ANC-regering nie veel van ’n poging aanwend om hierdie vuur te stuit nie, en in sommige gevalle die kole aanblaas. Dis ook vreemd (of nie?) dat polisieminister Bheki Cele baie besorg was oor die COVID-maatreëls wat in ’n Sandton-nagklub oortree is, maar steeds swyg oor die EFF-spektakel by dié openbare verhore, toe mense in EFF-hemde in ’n saal wou inbars wat reeds die toegelate kapasiteit bereik het. Of miskien is dit nie so vreemd nie as mens gesien het hoe EFF-leier Julius Malema en Cele soos boesemvriende langs mekaar in die hof gesit het tydens die tweede verskyning van die beskuldiges in die Brendin Horner-plaasmoordsaak in Senekal nie. Dít terwyl die EFF-ondersteuners buite dié verhoor – oor ’n gruwelike plaasmoord op ’n 23-jarige wit man – “Kill the boer” sing nie. Alles in ag genome, kan ’n mens nie anders as om te wonder wat die EFF werklik by dié optog gesoek het nie.
Soos die regering ons almal se tyd mors om te besluit watter vure hulle wil doodslaan en watter nie, het verskeie mense en organisasies met ’n selfdoen-instelling aan die werk gespring. Mense het hul hande en harte oopgemaak en skenkings gemaak, trokke het begin voer aanry en verskeie ander hulpprojekte is van stapel gestuur. Gemeenskappe het ook saam gebid vir boere wat so swaar getref is. AfriForum het self ook dié naweek voer met agt vragmotors laat aanry – en dit is moontlik gemaak deur skenkings. Daar is ook ’n projek geloods waardeur die publiek bokse met noodsaaklike goedere kan pak om aan boere in nood te skenk.
’n Boer het onlangs in die media gesê: “Al wat jy kan doen, is kyk baie kort af en baie hoog op en gee kort treetjies van hier af.” Ons sal nie opgee nie. Ons sal aanhou om ons moue op te rol, self skouer aan die wiel te sit en hulp bied aan mense wat alles verloor het. Want soos die Dean Chancy-liedjie gaan: “It aint easy to kill a Boer”.