StudentePlein skitter by nasionale finaal van Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente
StudentePlein se debatspan het die afgelope naweek met die louere weggestap by die nasionale finaal van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Hulle het om dié titel deelgeneem teen die span van die Noordwes-universiteit (NWU) by Akademia se Leriba-kampus in Pretoria.
StudentePlein se Wian van Rooyen, Neelsie van Dyk, Ignus Ferreira en Righardt Pretorius het as die wenners van die grootpraters uit die stryd getree. Die NWU se Pietie Vogel, Jaco Mulder, Johan Jordaan en Estiaan Vorsteras is as naaswenners gekroon.
Altesaam 16 universiteitstudente van Universiteit Stellenbosch, NWU en Akademia het deelgeneem.
Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het ten doel om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder. Terselfdertyd leer debatteerders ’n belangrike vaardigheid aan wat hulle ook in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.
“Die studente het waarlik hulle staal gewys by dié kompetisie, met goed geformuleerde argumente, selfvertroue en goeie debatsvaardighede. Dit is ongelooflik wat hierdie studente kon vermag met slegs ’n uur se voorbereidingstyd tot hulle beskikking,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.
“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die toewyding wat die universiteitstudente toon in hul oefening. Die nasionale finaal was waarlik ’n naelbytstryd. Ons sien baie uit om te sien hoe hierdie studente verbeter in hul debatte en volgende jaar weer aan die kompetisie deelneem,” sluit Müller af.