Student veg vir behoud van Krugerplein en straatname in België
Al het Pieter Bester Suid-Afrika as sewejarige saam met sy pa en sussie verlaat om in België te gaan woon, brand sy hart as 23-jarige student steeds met ’n passie vir sy vaderland se geskiedenis en sy mense.
Pieter het ’n tyd gelede in die koerant Het gazet van Antwerpen ’n artikel gelees oor die beoogde plein- en straatnaamveranderings wat die stadsdistrik Borgerhout beoog.
Volgens inligting wou die stadsdistrik Krugerplein, wat na oudpres. Paul Kruger vernoem is, en straatname soos Cronjé, Botha, Delarey en Dewet (boeregeneraals) verander.
Pieter vertel dat hy sy projek vir die behoud van Suid-Afrikaanse straatname deeglik beplan het voordat hy tot aksie oorgegaan het.
Nadat hy die koerantartikel gelees het, het hy die webtuiste van die stadsdistrik besoek waar hy geskok was oor die “ongelooflike hoeveelheid vals informasie oor ons volk en ons geskiedenis” wat daar gepubliseer was.
“Ek wou eers sorg dat die informasie oor ons volk en die straatname reg vertel word. In die tweede fase sou ek teen die naamsverandering veg. Die naamsverandering self was nie vir my hoofprioriteit nie omdat ek nie self ’n inwoner van Borgerhout is nie.”
Hy verduidelik dat dit gou vir hom duidelik geword het dat dit nie die inwoners van Borgerhout is wat agter die straatnaamverandering sit nie, maar eerder politici wat politieke munt daaruit wil slaan deur Suid-Afrika se geskiedenis aan te val. “As dit werklik vir die inwoners saak gemaak het, sou hulle na die stadsdistrik gestap het en gevra het dat die name verander na iets waarin hulle hulself meer vind.”
In verskillende artikels wat die stadsdistrik geskryf en op die webblad geplaas het, word ’n verband tussen Krugerplein, Kruger-, Cronjé-, Delarey- en Bothastraat en apartheid getrek. Daarin is beweer dat die wortels van apartheid in die koloniale geskiedenis van die land ontstaan het. In een van die artikels word genoem dat Bothastraat na Pieter Willem Botha vernoem is en nie na genl. Louis Botha nie! “Dit is absurd, want in die stadsargiewe kan ’n mens sien dat die stadsdistrik van Borgerhout in 1900 die straatname vernoem het na die boeregeneraals en pres. Paul Kruger. Dit is gedoen om solidariteit te betoon met die boere in die Tweede Vryheidsoorlog.”
Hy het ook met AfriForum in aanraking gekom om meer betroubare agtergrondinligting te bekom vir sy voorleggings aan die stadsdistrik.
Pieter sê die feit dat die artikels so slordig nagevors is, was vir hom ’n bewys dat dit ’n ideologiese stryd is.
Hy het aan Inne Peeters, gemoeid met kultuuraangeleenthede by die stadsdistrik, geskrywe en sy saak met feite gestel. Hy is uiteindelik ingelig dat die straatnaamveranderinge nie sal voortgaan nie en dat die stadsdistrik amptelik besluit het om inligtingsbordjies by die straatname aan te bring om konteks daaraan te gee. Die besluit sal later vanjaar aan die publiek gekommunikeer word.
Volgens Pieter gaan hy kyk of die bordjies aangebring word asook dat die meegaande inligting daarop korrek is. “Solank ek in België bly sal ek enige naamsverandering en vals voorstellings van ons volk teenstaan. Dit is ook belangrik om te wys dat ons geskiedenis ook gaan oor ’n sterk band tussen die Vlaminge en Afrikaners. Dit is ongelooflik dat Afrikaners as klein volk so ’n groot impak gehad het op die res van die Westerse wêreld.
“Die voetspore van ons voorouers is oral te vind in Europe. In die strate, pleine, herberge en selfs ’n duin aan die kus van België is na ons generaals, presidente en slagvelde vernoem.”
Pieter studeer elektromeganika en is tans in sy finale jaar. Hy is nog nie seker of hy sy meestersgraad in ingenieurswese wil doen nie, omdat hy graag wil begin werk.
As gebore Pietersburger wil Pieter graag in ’n stadium na Suid-Afrika terugkeer. “Ek was baie bevoorreg om hier in België op te groei, maar iets wat min mense verstaan is dat om te trek nie al ’n mens se probleme oplos nie. Ja, Suid-Afrika het baie probleme, maar daar is oplossings en, belangriker nog, daar is mense wat iets aan die probleme wil doen.
“Hier in Europa is daar sedert die pandemie net krisis op krisis en alhoewel dit nog in toom gehou word, is dit nie ’n volhoubare situasie nie. Daar moet verandering kom, maar die burokrasie bemoeilik die proses. Verder is dit nie hier soos in Suid-Afrika nie. Hier verwag die mense steeds dat die regering of ander instansies hulle moet red, terwyl ons lankal weet dat ’n volk homself moet red.”
Terwyl hy dié stryd agter die skerms veg, was die kwessie van Borgerghout se straatname ook onlangs ’n gesprekspunt op Twitter.
Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by Solidariteit, het Filip Dewinter, Vlaamse parlementslid, in Maart ontmoet waar hulle die plein saam besoek het.
Dewinter het gesê: “Deel van ons kulturele erfenis en verbintenis is met Paul Kruger en sy boere. Ons het hulle ondersteun en dit moet vandag voortgesit word met steun vir Afrikaners se saak. Ons praat dieselfde taal.”
Kleynhans het gesê Krugerplein vertel die verhaal van 150 jaar se vriendskap tussen twee volkere naamlik die Vlaminge en die boerevolk. Met verwysings na die name het hy gesê die geskiedenis moet ook aan die volgende generasie Vlaminge vertel word. Ons het ’n tuiste in Antwerpen Vlaandere.”
- Hooffoto: Pieter Bester van België saam met sy pa, Pieter, en suster, Marché, voor die Delvillebos-monument in Frankryk. Die monument is opgerig ter ere aan die Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade wat in die loop van die Somme-offensief (1 Julie tot 18 November 1916) in die Eerste Wêreldoorlog aan die slag by Delvillebos deelgeneem het.