|

Struisbaai skitter met nuut geverfde straatname

Die AfriForum-tak in Kaap Agulhas het die afgelope naweek begin om talle oppervlaktes wat straatname in Struisbaai bevat, skoon te maak en netjies oor te verf. As deel van AfriForum se #OnsDorpOnsVeiligheid-projek beywer dié tak om bykans elke straatnaam in die gebied oor te verf om dit meer sigbaar te maak vir nooddienste tydens noodsituasies. Sigbare straatnaamborde vergemaklik ook besoekers, afleweringsdienste en individue wat nie vertroud is met die omgewing nie se ervaring op die dorp.

Hierdie inisiatief is een van die AfriForum-tak se verskeie selfdoen-projekte en sal verseker dat toeriste en inwoners makliker deur die mooi strate aan die Suidpunt van Afrika kan navigeer. Die tak beplan om aan die einde van die projek altesaam 46 straatname op tien kruisings oor te verf en uiteindelik die projek na Bredasdorp uit te brei.

“Ons is trots op ons omgewing,” sê Johan Schoombee, beampte vir omgewingsake by AfriForum se Kaap Agulhas-tak. “Ons sal voortgaan om projekte soos hierdie aan te pak om ons gemeenskap te verfraai en veiliger te maak.”

Die Kaap Agulhas-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak en deel te wees van projekte soos hierdie of om aan te sluit by die nuutgestigte Struisbaai-buurtwag. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings