Stop die Bela-wet en die regering se ander boelietaktieke teen Afrikaanse skole
Vanaf 24 Februarie 2023 vind openbare raadplegingsessies oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (beter bekend as die Bela-wet) oor naweke in die nege provinsies plaas.
In 2017 het AfriForum en ander instellings, asook meer as ’n honderdduisend lede van die publiek, standpunt ingeneem teen die wetsontwerp wat ’n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte onderrig inhou. Vir enkele jare het dit van die radar verdwyn, tot ’n nuwe weergawe in 2021 in die Staatskoerant verskyn het. Weer het instellings en die publiek dit in hulle duisendtalle verwerp. Daar was eers ’n rondte skriftelike voorleggings aan die portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys, waarna enkele verteenwoordigers van instellings, insluitend AfriForum, genooi is om mondelinge voorleggings aan die komitee te maak. Nou volg die openbare raadplegingsessies waar enige lid van die publiek welkom is om ’n inset te lewer.
Die Afrikaanse gemeenskap het selfs nog meer rede om teen die wetgewing hakke in te skop, omdat dit in die woorde van die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, “nodig is om die regering toe te laat om in te tree en skole se taalbeleid en onderwyskultuur te verander”. Dit is dus geen geheim dat dit daarop gemik is om Afrikaanse onderwys en die onontbeerlike toegang tot moedertaalonderrig te vernietig nie.
Die staat wat tans nie eens in staat is om 80% wanfunksionele openbare skole reg te ruk nie, stel nou sy visier op álle skole in die land.
Dit alles bewys hoe noodsaaklik dit is dat die publiek nie nou hulle teenstand teen die konsepwet moet laat verslap nie, maar aan die sessies moet deelneem en dit ten sterkste moet verwerp.
Suid-Afrika is berug daarvoor dat dit een van die lande in die wêreld is wat die grootste persentasie van sy begroting aan onderwys spandeer, maar van die swakste onderwys aanbied. In internasionale steekproewe wat onder leerders gehou word, word telkens bevind hoe gebrekkig leerders se lees-, skryf-, begrips- en wiskundige vermoëns is. Ons moet jaloers waak oor die Afrikaanse openbare skole wat steeds van die beste onderrig in die wêreld aanbied en verhoed dat hulle nie ook in die moeras van oneffektiwiteit ingesleep word deur provinsiale onderwysdepartemente nie.
Tans word Afrikaanse skole reeds op verskeie openlike en verskuilde wyses geteiken. Diensterekeninge word nie betaal nie, of dienskostes word buitensporig verhoog. Wat laasgenoemde aanbetref, het AfriForum en ander instellings vroeër vandeesmaand ’n saak teen die Johannesburgse Metroraad gewen nadat dit enorme verhogings van eiendomsbelasting vir die 2022/2023 finansiële jaar goedgekeur het.
Ander tegnieke sluit in dat skole geïntimideer word om met Engelse skole saam te smelt, soos in die geval van Laerskool George Jacques in Alicedale. By sommige skole word personeel aangestel wat nie Afrikaans magtig is nie, terwyl ander ly onder personeel wat aan vakbonde behoort wat hulle beskerm as hulle maande lank weier om skool te hou.
Sommige plattelandse skole is van kosgangers afhanklik om hulle deure oop te hou, maar die betrokke provinsiale departemente se administrasie is só swak, dat die koshuise noodgedwonge moet sluit. Dan praat ons nog nie eens van die probleme met aanlyn gesentraliseerde skoleplasingstelsels en die feit dat nuwe Afrikaanse skole nie gebou word nie.
Uitnemende Afrikaanse skole baklei reeds op vele terreine teen die stelsel en daarom mag ons nie energie verloor met standpuntinname teen die Bela-wet nie.
Enigeen wat meer inligting oor die wetsontwerp, openbare raadplegingsessies of enige ander aspek van die konsepwet benodig, is welkom om AfriForum by onderwys@afriforum.co.za te kontak.