Staatskommissies: Regering se gunstelinguitsteltegniek
Adjunkhoofregter Raymond Zondo het die afgelope week gedreig dat die datums vir die verskyning van Oudpresident Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie na staatskaping op 16 tot 20 November nie onderhandelbaar is nie. As Zuma versuim om voor die kommissie te verskyn, sal regter Zondo hom dagvaar om sy getuienis oor sy klaarblyklike aandeel in die Gupta-petalje voort te sit. Zuma het aanvanklik getuig, maar nadat die voortsetting van sy getuienis uitgestel is, het hy die kommissie telkens weens verskeie redes ontduik. Volgens nuusberigte is die hoofrede hiervoor dat hy weens sy ander hofverskynings nie voldoende vir die voortsetting van sy getuienis kan voorberei nie. Hy het ook al aangevoer dat hy weens gesondheidsredes en sy gevorderde ouderdom nie aan die COVID-19-virus blootgestel kan word nie.
Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, se onlangse antwoorde in die parlement oor die moontlike vervolging van Zondo-geïmpliseerdes en die rol wat die Ondersoekdirektoraat kan speel, werp nuwe lig op die “waarde” van kommissies in die algemeen en die Zondo-kommissie in die besonder. Daar is moontlik ’n wanopvatting oor die waarde van die getuienis wat voor die kommissie gelewer word. Dit is belangrik om te onthou dat getuienis wat voor dié kommissies gelewer word nie outomaties tot vervolging sal lei nie. Die gewone strafregproses sal eers ná afloop van die kommissie gevolg moet word, wanneer die SAPD of Ondersoekdirektoraat ’n saak ondersoek en ’n saakdossier saamstel. Daarna moet die Nasionale Vervolgingsgesag besluit om ’n persoon te vervolg of nie. Die getuienis wat voor só ’n kommissie gelewer word, is nie aan kruisverhoor onderworpe nie en kan nie bloot in latere hofverrigtinge gebruik word nie. Getuies sal weer hul getuienis onder eed moet lewer indien geïmpliseerde persone vervolg word. Dit is ook belangrik om te onthou dat, buiten vir Tony Yengeni, nog geen persoon wat in kommissieverrigtinge geïmpliseer is ooit skuldig bevind is nie.
Die afleiding kan dus gemaak word dat kommissies geen tande het om skuldige partye tot verantwoording te roep nie en dat die regering bloot vir tyd speel omdat dit nie die politieke wil het om hooggeplaastes te vervolg nie. Die skyn word dus verwek dat daar opgetree word; die gemeenskap aanvaar die weergawes van die getuies terwyl dit bloot eensydige weergawes is wat nie deur kruisondervraging getoets word nie. Dít ten spyte van die byna twee miljard rand belastingbetalergeld wat die staat reeds sedert 1994 op die twaalf staatskommissies en twee staatsondersoeke bestee het.
Die daarstel van die kommissie moet in perspektief gestel word, met inagneming van die tydlyn van die Zuma-administrasie. Die afleiding kan gemaak word dat die doel van dié kommissie bloot is om die onvermoë van die strafregstelsel te omseil. ’n Goed funksionerende strafregstelsel maak die bestaan en voortbestaan van die Zondo-kommissie – asook enige ander kommissies oor korrupsie – oorbodig. Dit maak uit die aard van die saak veel meer sin dat die SAPD in die eerste plek verdagte persone ondersoek, die NVG vervolging instel en die hof die skuldige partye vonnis. Pleks daarvan word die publiek egter blootgestel aan getuienisse waarin (veral) hooggeplaaste politici geïmpliseer word, sonder dat daar ooit teen diesulkes opgetree word. Dié hooggeplaastes word nooit vervolg nie en bly meestal in hul poste sonder dat enige haan daarna kraai. Dit versterk die publiek se siening dat sekere mense onaantasbaar is en dat almal nie gelyk is voor die reg nie.
Kan ’n mens dus strafregtelike gevolge verwag vir enige van die etlike geïmpliseerde persone in die Zondo-kommissie, Zuma inkluis? Net tyd sal leer, maar die geskiedenis is dikwels die beste leermeester – en die baanrekord van vorige kommissies laat veel te wense oor.