|

Staat versaak sy plig om erfenisgeboue te beveilig

Die verwoestende brand wat Sondag in die parlement in Kaapstad ontstaan en tot ’n geraamde skade van sowat R1 miljard gelei het, is ’n wekroep vir die ANC-regering, maar ook vir elke landsburger.

Hoewel dit nog onduidelik is presies hoe die brand ontstaan het én of opsetlike brandstigting dalk die oorsaak was, is dit reeds duidelik dat die nodige voorsorgmaatreëls nie in plek was nie. Eerstens is daar sterk aanduidings dat geen parlementêre veiligheidspersoneel aan diens was nie. Daar is ook bewerings dat die sproeiers en brandalarm ook nie na behore gewerk het nie.

Benewens die parlementsgebou is daar die afgelope twee jaar ook ander erfenisgeboue en terreine in puin gelê.

Dit is die tweede brand in minder as ’n jaar wat die parlementêre gebou getref en skade aan die historiese gebou en inhoud aangerig het. In Maart verlede jaar is ’n brand deur ’n elektriese kortsluiting veroorsaak. Die regering het nie ag op vroeëre waarskuwings oor ’n moontlike brandgevaar geslaan nie.

Benewens die parlementsgebou is daar die afgelope twee jaar ook ander erfenisgeboue en terreine in puin gelê.

In April verlede jaar is verskeie geboue van die Universiteit van Kaapstad en ander geskiedkundige geboue, waaronder die historiese Jagger-biblioteek, in ’n brand verwoes of beskadig. Brandstigting was vermoedelik die oorsaak van dié skade.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid in die Kaapstad-metro, het ná die voorval gesê dit is dalk tyd om te erken dat brandstigtings ’n ernstige probleem in Kaapstad is.

In Julie 2020 is die historiese generaalshuis in Potchefstroom ook in ’n veldbrand verwoes nadat daar vroeër reeds teen ’n brandgevaar gewaarsku is. Die huis is in 1980 tot nasionale erfenisgebou verklaar. Dit is vroeg in 1900 gebou as woning vir die Britse bevelvoerder van die weermagbasis in Potchefstroom. Omdat die gebou tot erfenisgebou verklaar is, het dit aan die departement van openbare werke (DOW) in Noordwes behoort. Pleidooie en versoeke deur erfeniskenners en –bewaarders dat die DOW die huis, wat besig was om te verval, instand moet hou, het op dowe ore geval.

Uit hierdie enkele voorbeelde is dit duidelik dat staatsentiteite wat veronderstel is om erfenishulpbronne in die land te bewaar en instand te hou nie hul plig nakom nie. Of erger nog, nie ’n duit omgee wat van hierdie kultuurhistoriese skatte word nie.

In nog ’n tragiese voorval is die historiese Non-Pareille-plaashuis op die Roggelandpad in Dal Josafat in Junie verlede jaar in ’n brand verwoes. Dieselfde plaashuis het in Junie 2019 ook afgebrand. Dié terrein is een van ’n paar wat deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) as ’n graad een-erfenishulpbron verklaar is. Dit dateer terug na die laat 17de eeu. Die gebou is oor jare deur vandale en metaaldiewe geteiken. Die gebou is aanvanklik deur huurders ontruim weens veiligheidskwesseis en die tweede brand was weens ’n gebrek aan beveiliging én die verwaarlosing van die eiendomme onder die beheer van Sahra.

Uit hierdie enkele voorbeelde is dit duidelik dat staatsentiteite wat veronderstel is om erfenishulpbronne in die land te bewaar en instand te hou nie hul plig nakom nie. Of erger nog, nie ’n duit omgee wat van hierdie kultuurhistoriese skatte word nie.

Dit is daarom verblydend dat instellings soos AfriForum, die FAK en die Erfenisstigting hulle, dikwels met beperkte hulpbronne, wel beywer om bedreigde erfenishulpbronne instand te hou. Dié hulpbronne sluit in historiese geboue, strukture, monumente, erfenisterreine, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte.

Vir sekere groepe, soos minderheidsgroepe, is hierdie erfenishulpbronne tasbare uitdrukkings van hul identiteit en daarom is dit van kardinale belang om instellings soos hierdie te ondersteun sodat ons erfenis vir die nageslag behoue kan bly.

Soortgelyke plasings