|

Staat faal opkomende boere: Inligting rakende stryd vir grondsekerheid bekendgemaak

Die tragiese stories van mislukte grondhervormingprojekte en die lot van duisende begunstigdes wat finansieel swaarkry en sukkel om die mas op te kom, kan byna eksklusief voor die deur van korrupte en onbekwame staatsamptenare gelê word. Dít is duidelik uit die inligting wat suksesvolle opkomende boere van regoor die land vandag tydens ’n mediakonferensie in samewerking met die familieboerenetwerk Saai en AfriForum bekendgemaak het.

Die opkomende boere vorm deel van die groot aantal boere wat ’n soortgelyke stryd voer vir grondsekerheid oor die staatsgrond waarop hulle tans suksesvol boer. Ernstige uitdagings word oral beleef:

  • Langtermynhuurkontrakte word nie toegeken nie, of nie weer toegeken as dit verstryk nie.
  • Grond wat wel aan hul toegeken word, word reeds deur ander persone benut of beset.
  • Boere wat wel huurkontrakte kry, kry nie die geleentheid om titelaktes vir hulle plase te bekom nie en word só tot bywonerstatus gedoem.
  • Vanweë die gebrek aan sekerheid oor en eienaarskap van die plase het hulle nie sekuriteit nie en kry hulle nie toegang tot finansiering nie.
  • Die onsekerheid oor benuttingsreg maak dit onmoontlik om optimaal op hulle plase te belê, en boorgate, omheining, veefasiliteite en boorde of besproeiing bly agterweë omdat die staat hulle dikwels probeer wegskuif, of dwing om met ander mense hulle plase te deel.

Dit is veral die wydverspreide gebruik dat die staat suksesvolle opkomende boere van hulle staatshuurplase afskuif om vir goed gekonnekteerde kaders plek te maak, wat onlangs tot groot spanning in Mpumalanga en die Oos-Kaap aanleiding gegee het. AfriForum en Saai het met regstappe begin om skoon administrasie en deursigtigheid te verseker en minister Thoko Didiza van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het onderneem dat dit nie weer sal gebeur nie. Die amptenare in haar departement steur hulle egter nie daaraan nie.

’n Groot aantal boere wat suksesvol op staatsgrond boer, ly onder onwettige besettings, betredings en mense wat ’n deel van hulle grond kaap om op te plak of ’n eie boerdery daarop te bedryf. Die polisie beskou dit oor die algemeen as politiekery eerder as ’n misdryf en glo dat die departement die probleem moet takel.

Die onwilligheid en onvermoë van die staat om sy begunstigdes se basiese belange, eiendom en regte te beskerm, is die vernaamste oorsaak dat daar nog nie ’n klas van winsgewende swart boere in die land ontstaan het nie. Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê dit is van nasionale belang dat swart boere eienaarskap van hul plase moet kry, “anders sit ons oor tien jaar weer met twee klasse boere in die land – wit boere wat hul eie grond besit en swart boere wat by die staat huur. Niemand verstaan waarom die staat nie sy burgers met eienaarskap vertrou nie. Hulle kry nie eers huurkontrakte nie. Deur onsekere gebruiksreg op grond sonder enige kontrakte of met huurkontrakte in stand te hou, skep die staat ’n afhanklikheidstrik waaruit opkomende boere nie kan ontsnap nie.”

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, sê dat dié burgerregteorganisasie en Saai saam met tradisionele leiers in diep landelike gebiede betrokke is by landbouontwikkelingsprojekte en verstaan hoe uitdagend dit is om mense wat min of geen ervaring van kommersiële landbou het en nie toegang tot finansiële hulpbronne het nie te ondersteun om suksesvol te boer. “Die staat se totale onbeholpenheid om vir opkomende boere wat suksesvol op staatsgrond boer grondsekerheid te verskaf bedreig welvaartskepping en voedselsekerheid en wek agterdog oor of die staat werklik opkomende boere se sukses wil verseker. Dit is duidelik dat die staat nie die vermoë het om die grond wat dit tans besit te bestuur nie, om daarom te praat van die uitbreiding van staatseiendom, deur byvoorbeeld onteiening, is eenvoudig irrasioneel,” sê Uys.

Soortgelyke plasings