|

Springs-tak span waterkar in om visse te red

Die AfriForum-tak in Springs het onlangs vinnig reageer toe hulle ’n boodskap ontvang het dat die dam by Jack Ellis Park besig was om leeg te loop. Die tak het hul waterkar ingespan om te help en sodoende voorkom dat die visse vrek toe die waterpeil val.

Sowat 300 visse is verskuif na verskeie damme en plaasdamme in die area. Daar is ook 30 visse in die eendedam in George Sutter Park vrygelaat – dié park en eendedam word al vir jare deur die Springs-tak onderhou. Die visse sal weer na die Jack Ellis Park geneem word sodra die waterpeil voldoende herstel het.

Die tak bedank die gemeenskap vir hulle samewerking tydens hierdie verskuiwingsoperasie. Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, is hierdie optrede nodig om te help om die omgewing en plaaslike ekosisteme te beskerm.

“As gemeenskap kan ons berge versit wanneer ons saamstaan. By AfriForum glo ons dat deur gesamentlike optrede en onwrikbare toewyding, ons nie net ons gemeenskappe sterker maak nie, maar ook ’n beter toekoms vir almal bou,” sê Ferreira.

Die Springs-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en aan te sluit by die tak by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings