| |

Springs-tak maak grusame vonds

AfriForum se Springs-tak en gemeenskap het op 9 Junie op ’n grusame vonds afgekom. Karkasse van diere is onwettig in ’n veld naby Daggafontein gestort. Ná verdere ondersoek is dokumente gevind wat aandui dat dié karkasse vanaf die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Springs afkomstig is.

Die Springs-DBV is gekontak en hulle het bevestig dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste karkasse en ander veearts-afval, wat ’n gesondheidsrisiko inhou, onlangs kom verwyder het.

Springs-DBV het hulle span uitgestuur om die toneel te besoek en kon bevestig dat dít wel die afval was wat hulle aan die munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste oorhandig het. Daar is  nog twee addisionele punte geïdentifiseer in die nabye area waar soortgelyke stortings gevind is. Ná afloop van die besoek het die Springs-DBV die munisipaliteit gekontak. Die munisipaliteit ontken egter enige betrokkenheid by die gebeure en het gesê dat hulle die afval eers die volgende week sou kon verwyder.

Die span van die Springs-DBV het uit respek vir hierdie diere self ingespring en die diere se karkasse verwyder en terug na hulle perseel geneem.

AfriForum se Springs-tak het ’n brief in die verband aan die munisipale bestuurder dr. Imogen Mashazi, gestuur om ondersoek in te stel. Die tak eis verdere terugvoer van die munisipaliteit na afloop van hierdie ondersoek om vas te stel watter maatreëls en stappe geïmplementeer gaan word om te verseker dat hierdie situasie reggestel word.

“Dis onaanvaarbaar dat die munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste so iets kon laat gebeur. Ons is voortdurend besig om onwettige stortings onder die aandag van die munisipaliteit te bring, maar daar kom niks van nie. Baie van hierdie voorvalle vind plaas in die Brakpan-area en dit blyk dat dit werknemers en kontrakteurs van die munisipaliteit is wat hiervoor verantwoordelik is,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om die Grondwet te handhaaf deur ons regte te beskerm en basiese dienste, waarvoor ons betaal, te lewer. Ons dring aan dat die munisipaliteit aan ons ’n werkbare en volhoubare plan beskikbaar sal stel waarin hulle uiteensit hoe hierdie situasie nou hanteer en in die toekoms voorkom gaan word,” sluit Ferreira af.

Die Springs-tak se regspan sal verdere regstappe oorweeg indien die munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge nakom nie.

Om my dié tak betrokke te raak, of om aan te sluit besoek www.wordlid.co.za en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings