Sosiale ingenieurswese op die Puk (As ’n mens dit nog Puk mag noem?)
Deur Bernard Pieters
Sosiale ingenieurswese is die gebruik van gesentraliseerde beplanning in ’n poging om gedwonge sosiale verandering te forseer en die toekomstige ontwikkeling en gedrag van ’n samelewing (studenteliggaam en -lewe) te beheer. Met die toepassing van rassekwotas teenoor meriete word ’n vorm van sosiale ingenieurswese gebruik om die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus met die bestuur se politieke agenda te transformeer.
By Kovsies, Maties en Tuks is meeste koshuistradisies deur die bestuur verwyder, wat grootskaalse transformania veroorsaak het en die studentelewe op kampus laat platval het. Dekolonialisasie en verengelsing het daarop gevolg. Oorspronklik het kolonialisme juis veroorsaak dat alles verengels het en dat inheemse tale nie ontwikkel is nie – dus maak dit nie vir my sin hoe jy iets gelyktydig kan dekolonialiseer en verengels nie. Maar ek dwaal van die punt af.
Die NWU se Potchefstroom-kampus word volgende geteiken. En ja, die woord “geteiken” is gepas – die sentrale bestuur het direkte bande met die regerende party wat die nuwe reëls/beleid ingestel het en dit tans op dosente, ouers en studente afdwing. Gedwonge koshuisplasing van studente wat dit nie met harde werk of meriete verdien het nie is een van die gevolge van dié rassebeheptheid, soos ’n Netwerk24-artikel van 16 Januarie 2020 noem.
Net soos rassekwotas studente tans in en uit koshuise forseer, is die gevolge daarvan ook duidelik sigbaar in studente se deelname aan eerstejaarsaktiwiteite. Sommiges sal sê dat kultuur onder voornemende en eerstejaarstudente verskil, ja, maar dit was nie in die verlede ’n probleem nie. Is daar ’n taalverskil? Ja, maar dit was weer eens nie voorheen ’n probleem of uitdaging op die kampus nie, so wat is dan nou anders? Soos enige ouer en werkgewer kan getuig is die gesindheid van iemand wat vir iets moes werk, teenoor iemand wat iets bloot ontvang het, heeltemal verskillend. ’n Hardwerkende student het ’n trotse waardering vir sy of haar verdienste, terwyl die ander geen waarde daaraan heg nie. Ná gesprekke met studente op die Potchefstroom-kampus is ek oortuig dat dít die oorsaak is van die gebeure wat tans daar afspeel.
Ander sal dit natuurlik steeds aan ras, kultuur of taal toeskryf, maar soos ek sê is dit lank reeds ’n realiteit en was dit nog nooit ’n faktor met betrekking tot jool nie. Studente wat koshuisplasing gekry het deur ander uit te forseer, se gesindheid van eiegeregtigheid toon geen belangstelling in die liefdadigheidsfokus van jool nie. Die kultuur van eiegeregtigheid gaan oor verdienste vir alles, sonder om daarvoor te werk. Sulke individue neem nie aan liefdadigheid deel nie, want “die staat sal voorsien, dis nie my plig om ander te help nie”. Dit is ’n ideologie van “Ek en Myself”.
Om Martin Luther King aan te haal: “I have a dream that my four little children will one day live in a nation where they will not be judged by the colour of their skin but by the content of their character.” Ek wonder wat King vandag sou sê? In die verlede is daar foute gemaak, maar mense het dit erken en reggestel. Hier sien ons ’n bestuur wat doelbewus die geskiedenis herhaal. Wat dit erger maak is die hordes boeke wat oor die gevolge van rasseverdeling en gedwonge rasseverskuiwing (met verwysing hier na die koshuisplasings) geskryf is. Tog gebruik die NWU-bestuur ’n donker deel van die geskiedenis as ’n instruksieboek vir hul beleide en nie as ’n waarskuwingshandboek soos dit bedoel was nie.
Sonder ’n sterk studentelewe is daar geen teenstand teen die polities gedrewe veranderinge wat nou afgedwing word nie. AfriForum Jeug ondersteun dus gesonde studentetradisies wat karakter bou, asook projekte soos jool – waar liefdadigheid en die geleentheid om aan die gemeenskap terug te gee die fokus is. Om die NWU ’n instelling te maak om op trots te bly moet ouers en studente hul stem dik maak en daarop aandring dat studente op meriete beloon word en akademiese uitnemendheid erken word. Dit is te laat om 2020 te verander, maar 2021 is in die ouers, studente en dosente se hande – júlle gaan die toekoms bepaal. Die NWU-bestuur kan niks sonder julle insette doen nie. Julle betaal die studiegeld, julle werk vir die bestuur en julle donasies en jul voorouers se nalatenskap hou die pot aan die kook.
Daarom het AfriForum ’n petisie geloods waarmee mense ons die mandaat kan gee om ’n gesprek oor die kwessies op kampus te begin en ’n afspraak met die NWU-bestuur te maak om die saak met hulle te bespreek. Júlle – jý – het die mag om ’n verskil te maak!
Onderteken die petisie hier: http://artikels.afriforum.co.za/joupuk/
#JouPuk
Ondersteun ons sonder om jou identiteit aan die NWU-bestuur bekend te maak: SMS “Puk” na 32687 (R1).
Bernard Pieters is die bestuurder by AfriForum Jeug.