Solidariteit Beweging vier Afrikaanse Taaldag met buitengewone taalekspo
Die Solidariteit Beweging het vandag ter viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus ’n buitengewone taalekspo in Centurion aangebied waarin insig in tientalle inisiatiewe ter bevording van die taal gegee is.
Op 14 Augustus 1875, 143 gelede, is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die huis van Gideon Malherbe, vandag die Afrikaanse Taalmuseum, in die Paarl gestig. Die GRA was die organisatoriese dryfveer agter die beweging om Afrikaans as ’n amptelike skryf-, skool- en kanseltaal erken te kry en in hierdie opsig het hulle ‘n dinamiese rol gespeel in die totstandkoming van die taal wat ons steeds vandag praat.
Die taalekspo is deur Annelise de Vries, assistent: taal en kultuur by AfriForum, gereël.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het verwys na die uitsprake wat groot wysgere soos N.P. Van Wyk Louw oor die taal gemaak het en herhaal dat as enige taal verlore gaan, die hele mensdom daaronder ly.
Hy het gesê die beweging is nie Afrikaans omdat dit reg of wettig is. “Ons bevorder Afrikaans oor dit ons taal is. Ons moet kulturele selfvertroue hê en dit bevorder. Afrikaans is ons asem. Ons wil ’n normale toekoms daarvoor hê en nie met die owerhede in konflik tree nie.”
Buys meen egter die doel is groter as die bevordering van Afrikaans. “Dit gaan oor die oorlewing van ’n gemeenskap. ’n Gemeenskap kan net oorleef as kultuurgoedere na die volgende geslag oorgedra word. Die owerhede sien die Afrikaanse gemeenskap nie as deel van die toekoms nie. Met diversiteit bedoel die regering eenvormigheid onder die dekmantel van verskeidenheid.”
Buys het beklemtoon dat minderheidsgroepe die reg het om hul taal en kultuur te bevorder en in stand te hou. “Verteenwoordigendheid is ongrondwetlik, want dit misken minderhede. Radikale transformasie van die samelewing het soveel Afrikaanse plekke sonder vergoeding onteien. Afrikaners voel vervreemd en baie het die groot trek na ander lande aangepak.
“Ons groot taak is om vrye demokratiese Afrikaanse ruimtes te skep waar Afrikaners veilig en tuis sal voel in plaas van om te emigreer.”
Verskeie sprekers het oor ander inisiatiewe binne organisasies soos AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, Akademia, Sol-Tech en vennote van die Beweging gepraat wat Afrikaans op een of ander manier uitbou, beskerm, verdedig en/of bevorder.
Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die bevordering van Afrikaanse taalregte is sentraal in die werksaamhede van AfriForum. Internasionale konvensies en deklarasies word gebruik om die saak van Afrikaans te bevorder. Daar is ook ’n fokus op moedertaalonderrig en die behoud van Afrikaans in onderwys. Die reg van elke mens om die taal van sy keuse te gebruik, word beklemtoon.
Aksies fokus op bewusmaking van taalregte, die opeis van taalregte op ’n waardige wyse en waar nodig word litigasie ook gebruik om Afrikaans se regmatige plek te verseker.
Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum, het verduidelik wat projekte soos SLIM, Dink of Sink, Spel en Speel behels om Afrikaans op skool- en universiteitsvlak uit te bou.
Marisa Engelbrecht, bemarkingsbestuurder van Jeug en Gildes by Solidariteit, het ’n voorlegging gedoen oor wat alles in Afrikaans gedoen word om mense in hul loopbane te anker en te beskerm. Die gildes het ’n waghondrol, jongmense word gehelp met internskappe, mentorskappe en voortgesette opleiding in Afrikaans en hulle kan ook toegang tot beroepgefokusde inligting kry.
Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het verwys na die baanbrekerswerk wat die sentrum doen om skole by te staan om in Afrikaans te kan bly onderrig gee en om te verseker dat Afrikaanse onderrig van wêreldklasgehalte bly. Daar is ook reeds met beplanning besig om te verseker dat daar in 2030 steeds Afrikaanse skole oor sal wees.
Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het verduidelik watter reuseverskil die organisasie in die lewens van arm Afrikaanssprekende kinders maak. Die nood is tans om daagliks meer as 12 000 kinders te voed, terwyl bietjie meer as 5 000 gehelp kan word.
Susan Lombaard, wat aan die stuur van Maroela Media staan, het gesê Maroela is nou die grootste Afrikaanse nuuswebwerf, gratis en betaald. “Ons is nie toevallig Afrikaans nie, maar doen wat ons doen ter wille van Afrikaans. Ons is die lekkerste Afrikaanse kuierplek op die internet en die grootste Afrikaanse gemeenskapsnuusplatform.”
Maroela Media spog met 1,2 miljoen unieke maandelikse lesers en sowat 16 miljoen bladsye word elke maand gelees.