Soek beter rede as rasse-integrasie vir LLB-graadprobleem
Die burgerregte-organisasie AfriForum het ernstige bedenkinge oor die aanname dat té min transformasie een van die redes is waarom LLB-graadkursusse aan sekere universiteite die gevaar loop om hul akkreditasie te verloor.
Die Noordwes-Universiteit, die Walter Sisulu-Universiteit, Unisa en die Universiteit van die Vrystaat kan moontlik hul LLB-akkreditasie verloor as hul nie voor Oktober hul akademiese programme wysig nie, het die Raad op Hoër Onderwys onlangs gewaarsku.
Dít volg nadat die raad in 2016 die LLB-kwalifikasies van universiteite landwyd hersien het met die oog op die verhoging van die gehalte van regsopleiding in die land.
Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, meen ’n gebrek aan integrasie tussen studente van verskeie rassegroepe in die LLB-program is een van die redes waarom die NWU se graad in regte in gedrang is. ’n Dosent verbonde aan die NWU se regsfakulteit het egter aan Netwerk 24 gesê die raad se probleem met die NWU se kursus kan eerder grootliks toegeskryf word aan die sentralisering van die regsfakulteite van die Mafikeng- en Potchefstroomkampus, wat saamgesmelt het en voortaan deur een dekaan bestuur sal word.
“Dit is belaglik om aan te voer dat ’n gebrek aan rasse-integrasie tussen studente een van die redes is waarom die NWU se akkreditasie in gedrang is. Hoe kan integrasie die gehalte van onderrig bepaal? Moet daar nie eerder na die inhoud van programme en die gehalte van dosente gekyk word nie?” vra Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.
Volgens Bailey is dit ook verregaande om aan te voer dat rasse-integrasie ’n voorwaarde moet wees om bekwame regslui af te lewer. “Is ’n advokaat of prokureur byvoorbeeld dan nie by magte of bevoeg om sy Chinese kliënt te verteenwoordig omdat hulle nie aan rasse-integrasie blootgestel was nie?”
Sy meen AfriForum wil ook weet of die Raad op Hoër Onderwys behoorlik navorsing in die werkplek gedoen het om vas te stel of die gehalte van LLB-studente wat ander instellings aflewer, bo verdenking en op standaard is.
Olivia Mokgatle, hoof van die raad se afdeling wat nasionale standaarde hersien, het nie gesê op grond waarvan die vier universiteite moontlik hul akkreditasie kan verloor nie, maar het wel genoem dat die instellings as deel van die hersieningsproses ʼn vraelys moet invul wat deur ʼn paneel van die raad ondersoek word. Sy meen indien die raad nie tevrede is met dié vorderingsverslae in Oktober nie, hy nie sal huiwer om akkreditasie terug te trek nie.
Luidens media berigte het dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU, gesê dat die raad gewoonlik kyk na die aantal nagraadse kwalifikasies wat personeel aan die fakulteit het, die verhouding van studente teenoor dosente en die navorsingsuitsette van personeel.
Daniël Laäs, ʼn prokureur van die regsfirma Laäs Doman Ingelyf in Waterkloof, Pretoria, het aan Forum Nuus gesê die instansie waar regsstudente hul studies voltooi, is belangrik, maar nie die enigste kriteria wat in die aanstelling van kandidaatprokureurs oorweeg word nie. “Hoewel ons gevind het dat klerke van sekere universiteite wel beter resultate lewer en meer praktiese kennis het, kyk ons firma steeds na beide die instansie waar studente hul kwalifikasie verwerf het asook na individuele vaardighede én kennis.”
Johanette Rheeder, ʼn advokaat van Johanette Rheeder Ing. sê haar firma fokus op kandidate se akademiese rekord en hul bereidwilligheid om te leer en deel van ʼn span te wees.
“Omdat nuwe klerke geen werkservaring het nie, kyk ons na hul ywerigheid en die algemene indruk wat hul maak tydens hul onderhoud. Ons fokus ook natuurlik op hul akademiese rekord, maar vind nie noodwendig dat spesifieke akademiese prestasies aan spesifieke instansies gekoppel kan word nie.”