|

SOE slyp tande vir AfriForum se NSFAS-korrupsieklag

AfriForum se klag van beweerde korrupsie, wanbestuur en misbruik van fondse by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) waarby dr. Blade Nzimande, voormalige minister van Hoër Onderwys, en Ernest Khosa, voormalige voorsitter van NSFAS, betrek is, is nou aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) oorhandig vir verdere ondersoek. Dit volg in reaksie op die formele klag wat AfriForum op 26 Januarie vanjaar by die Openbare Beskermer (OB) hieroor ingedien het na aanleiding van onthullings wat in ’n NSFAS-verslag van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) aan die lig gekom het.

AfriForum het gisteraand ’n brief van die OB ontvang wat die oorplasing van die burgerregteorganisasie se klag na die SOE bevestig. In die brief word gesê dat die klagte wat by die OB ingedien is, verband hou met “kwessies wat deur die SOE ondersoek word met betrekking tot beweerde korrupsie, wanadministrasie en wanbestuur van fondse by NSFAS”.

Om veelvuldige ondersoeke en teenstrydige resultate te vermy, het die OB nou AfriForum se klag ingevolge proklamasie R88 van 2022 na die SOE verwys. Kragtens dié proklamasie het die SOE volmag van die president om bewerings van korrupsie en wanadministrasie in NSFAS te ondersoek.   

Volgens Charné Mostert, AfriForum se veldtogbeampte oor korrupsie, is die verwysing van AfriForum se OB-klag na die SOE ’n positiewe verwikkeling en ’n tree nader aan geregtigheid. “Die onlangse aankondiging rakende die vordering wat die SOE maak in sy ander ondersoeke rakende NSFAS, is verblydend en toon duidelik krake in die hulpskema se bestuur van fondse – aspekte wat juis ook in AfriForum se klag na vore kom,” verduidelik Mostert.

Beweerde korrupsie binne NSFAS ondermyn, volgens Mostert, boonop artikel 29(1)(b) van die Grondwet, wat die reg op toeganklike verdere onderwys deur redelike staatsmaatreëls waarborg. “Die beweerde korrupsie by NSFAS ontneem talle benadeelde studente daarvan om verdere opleiding te ondergaan. Hierdie jongmense is afhanklik van NSFAS-toelaes, nie NSFAS-korrupsie nie.”

Benewens die klagte wat nou na SOE verwys is, het AfriForum ook vroeër vanjaar ’n aansoek, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), by NSFAS ingedien. AfriForum versoek daarmee inligting rakende NSFAS se ooreenkomste met vier diensverskaffers (naamlik Coinvest Africa, Tenet Technology, Ezaga Holdings en Norraco Corporation) wat kontrakte ontvang het vir die direkte betaling van toelaes aan begunstigdes. Die burgerregteorganisasie het ook ’n afskrif van die Vision Wave-kontrak aangevra. Vision Wave het in 2022 ’n NSFAS-tender ter waarde van R44 miljoen losgeslaan en word bestuur deur Nzimande se adviseur, Tilson Manyoni. NSFAS het nog nie op AfriForum se aansoek gehoor gegee nie.

Soortgelyke plasings