|

SOE-ondersoek na Eskom-kontrakte slegs die begin van stryd teen korrupsie by die kragreus – AfriForum

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gaan nou ondersoek instel na beweerde korrupsie en wanadministrasie in nege Eskom-kontrakte. AfriForum beskou dit as ’n reusestap om aanspreeklikheid te bevorder, maar die organisasie meen dat hierdie slegs die begin is in ’n groter stryd om korrupsie by die kragvoorsiener die hoof te bied. Die aankondiging van die SOE volg ná president Cyril Ramaphosa ’n proklamasie onderteken het wat die korrupsiebestrydingseenheid die mag gee om hierdie sake by die kragvoorsiener te ondersoek.

AfriForum het reeds in Julie 2022 ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig om inligting oor sy steenkool- en dieselkontrakte te bekom. Die organisasie glo dat Eskom se steenkool- en dieselkontrakte inligting bevat wat moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener in die soeklig sal plaas.

Die SOE se ondersoek sal grootliks fokus op die verkryging en kontraktering van steenkool- en steenkooldienste, inligtingstegnologiedienste, sagteware lisensie en ondersteunings-ooreenkomste, sekuriteitsdienste, wanadministrasie van vooruitbetalings en forensiese ondersoekdienste vir steenkool.

Voorts het die SOE ook aangedui dat hy enige ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose of verkwistende uitgawes wat deur Eskom of die regering aangegaan is sal ondersoek. Dit sal enige onwettige of onbehoorlike gedrag deur Eskom-amptenare, -werknemers, -verskaffers, -diensverskaffers en ander betrokke partye insluit.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte oor korrupsie by AfriForum, beklemtoon hierdie aankondiging die feit dat daar diepgewortelde korrupsie en wanadministrasie by Eskom heers. “Dit maak dit onontkombaar dat Eskom die besonderhede van hierdie kontrakte aan die lig moet bring. Ons sal onverpoos voortgaan om te eis dat hierdie kontrakte heeltemal openbaar gemaak moet word sodat die publiek die omvang van die Eskom-krisis kan sien.”

Soortgelyke plasings