Só lyk Lesufi se eerste 100 dae werklik: Agteruitgang, planloosheid en ernstige bewerings van korrupsie
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het vandag tydens ’n mediakonferensie gepoog om die indruk te skep dat die eerste 100 dae sedert hy in Junie herkies is as premier, suksesvol was en gekenmerk is deur vooruitgang op verskeie terreine. AfriForum se evaluasie van Lesufi se prestasie tot dusver wys egter op die teendeel en dui eerder op agteruitgang en ’n algehele tekort aan werkbare planne, terwyl die wolk van ’n ernstige korrupsieskandaal ook oor sy kop hang. In die lig van dié evaluasie eis AfriForum die premier se onmiddellike afdanking.
Tydens vandag se konferensie het Lesufi onder meer erken dat watervoorsiening ’n prioriteit is en dat “Dag Zero” in die provinsie dreig. Hy het aangevoer dat hy en sy administrasie gereed is om hierdie krisis die hoof te bied. Tog wys die feite eerder op die premier se onvermoë om die watervoorsieningsramp te takel. Talle kenners, insluitend AfriForum, het al telkemale waarskuwings oor die groeiende krisis gegee en aanbevelings gemaak om dit vroegtydig te vermy, maar Lesufi se provinsiale regering het dusver geen beslissende optrede geneem nie.
Die ouditeur-generaal (OG) se nuutste verslag het intussen ook wydverspreide finansiële wanbestuur, bestuursmislukkings, agteruitgang van infrastruktuur en die nienakoming van noodsaaklike wetgewende vereistes in Gauteng blootgelê. Lesufi se versuim om doeltreffende oorsigmeganismes te implementeer en sy onwilligheid om aanspreeklikheid by munisipaliteite te eis, het boonop ’n kritieke leierskapsvakuum op munisipale vlak geskep.
Benewens dié probleme is Lesufi in sy eerste 100 dae geïmpliseer in ernstige aantygings van korrupsie. Hy is na bewering ’n kernfiguur in ’n grootskaalse toesmeerveldtog van korrupsie, geldwassery en bedrog wat die provinsiale regering reeds honderde miljoene rande kos. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vroeër vandeesmaand aangekondig dat dit ’n fluitjieblaser verteenwoordig in hierdie saak en is die opdrag opgelê om die geïmpliseerde amptenare en hul instaatstellers, insluitend politici, strafregtelik aanspreeklik te hou vir hierdie diefstal.
Voorts is die Gautengse provinsiale administrasie onder Lesufi se toesig toenemend op die afdraande pad van onreëlmatige uitgawes wat teen einde Maart vanjaar reeds R43,31 miljard bereik het. Lesufi en sy LUR’e sal moet verduidelik waarom hulle versuim om aanspreeklikheidsmeganismes te implementeer, dissiplinêre prosesse te volg en geen gevolgebestuur uitvoer nie. Voorts is die Fraud Detection Review Report, ’n verslag wat van kritieke belang is vir die identifisering en uitwissing van korrupsie in die Gautengse regering, vir die vierde kwartaal van 2023/2024 steeds nie uitgereik nie. Hierdie vertraging wek toenemende kommer en kritiek oor deursigtigheid en aanspreeklikheid in dié provinsiale regering se pogings om korrupsie te bekamp. Die vorige verslag vir die derde kwartaal het óók nie betyds verskyn nie.
Laastens het die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid, volgens hul jaarverslag, ’n tender ten bedrae van R9,7 miljoen toegeken vir die lewering van net 124 pistole. Dié buitensporige besteding kom volgens AfriForum neer op nagenoeg R78 000 per pistool – minstens drie keer die prys van ’n pistool waarmee wetstoepassers oor die algemeen toegerus word. Die betrokke pistole is geoormerk vir die departement se wetstoepassingsowerhede, wat die provinsie se misdaadbestryders, beter bekend as die “amaPanyaza”, insluit. Hierdie eenheid, wat in 2023 deur Lesufi in die lewe geroep is, is uit die staanspoor in omstredenheid gehul en die bewapening van dié 6 000 misdaadvoorkomingsbeamptes is reeds as hoogs onverantwoordelik bestempel.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, verdien Lesufi die titel van “die meester van mislukking” wat die publiek vir hom gegee het. “Lesufi gryp na strooihalms om ’n krieseltjie van ’n suksesstorie te vind in sy administrasie se eerste 100 dae. Die feite spreek egter van 100 dae van mislukkings, geen daadwerklike optrede en bewerings van korrupsie. Lesufi het in sy eerste 100 dae gedemonstreer dat hy baie meer gefokus is op kleinlike politieke speletjies en sosialemediaplasings as die veel dringender kwessies van korrupsie, wanbesteding of dienslewering,” sluit Van Zyl af.
AfriForum het ’n petisie begin waar die publiek Lesufi se onmiddellike afdanking kan eis. Besoek www.lesufimoetwaai.co.za vir meer inligting.