|

Só het AfriForum se Sasolburg-buurtwag jou veilig gehou in 2024

AfriForum se Sasolburg-buurtwag is vanjaar as die beste opkomende buurtwag in die streek aangewys. Dié buurtwag loop werklik die ekstra myl om die gemeenskap te beskerm. Benewens die feit dat hierdie buurtwag gereeld patrollies in die dorp ry, hou hulle ook elke aand ’n patrollie by ’n noodapteek om te verseker dat die personeel veilig by hul huise kom. Daar word ook elke Sondag vir twee ure patrollie gery by die begraafplaas sodat gemeenskapslede veilig hul geliefdes se grafte kan besoek.

Voorts het die buurtwag ook brande in die omgewing geblus deur die loop van die jaar. Dié buurtwag het ook ’n 2 400 liter watertenk aan die SAPD se honde-eenheid geskenk. Samewerking met die plaaslike SAPD is goed en daar word gereeld patrollies en padblokkades saam met die SAPD gehou waar mense met dwelms, gesteelde goedere, onpadwaardige voertuie en so meer aangekeer word.

Die buurtwag werk ook nou saam met ander sekuriteitsmaatskappye en die GPF. Hulle hou gereeld oorgrenspatrollies waar daar in meer as een provinsie gepatrolleer word.

“Hierdie buurtwag besef duidelik die erns daarvan om na jou eie veiligheid om te sien. Hulle doen uitstekende werk saam met ander organisasies en die SAPD en daarom word daar sukses behaal. Dit sal hulle werk vergemaklik en die hele dorp nog veiliger hou as al die inwoners by die buurtwag wil aansluit en elkeen sy beskeie deel doen,“ sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Johan Hayward, takvoorsitter van Sasolburg, bedank almal van die buurtwag asook GPF, Sasolburg Safety en Public Eye vir hul samewerking as ‘n eenheid. “Ons doel van die buurtwag is  om die dorp veilig te hou en onderstuening te gee aan ander organisasies waar ons kan,” sluit Hayward af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak vir Johan Hayward by 073 885 1365.

Soortgelyke plasings