|

Sleutelkwessies in Dibeng vanjaar op AfriForum se prioriteitslys

AfriForum het op 23 Januarie gedurende ’n buurtwagvergadering in Dibeng, sowat 20 km noord van Kathu, praktiese oplossings bespreek vir die uitdagings wat die gemeenskap lamlê. Tydens die vergadering is sleutelkwessies geïdentifiseer, soos gebiede waar oorgroeide Prosopis-bome ’n veiligheidsrisiko inhou, die voortdurende probleem met die brandende en bewoonde vullisterrein, asook uitdagings wat verband hou met Eskom-dienslewering.

Gedurende die vergadering is AfriForum se buurtwag gereorganiseer. Johan du Plessis is as die nuwe leier van die buurtwag in Dibeng, wat deel is van AfriForum se Kathu-tak, verkies. Hy sal voortaan saam met die onderskeie nuutverkose sektorleiers werk, wat toesig oor spesifieke gebiede in die gemeenskap sal hou.

Die gereorganiseerde buurtwag het alreeds binne ’n bestek van vier dae (oftewel 14 uur) ongeveer 191 km tydens patrollies afgelê. “Van die kwessies waarop die patrolleerders gereageer het, sluit in verdagte persone op wat in die strate ronddwaal, oop hekke by eiendomme en ’n huisalarm wat afgegaan het. Daar was ook verdwaalde donkies in die pad, wat ’n gevaar vir motoriste inhou,” sê Johan Snyman, voorsitter van AfriForum se Kathu-tak.

AfriForum bly daartoe verbind om saam met die gemeenskap te werk om ’n veiliger omgewing te verseker. Inwoners word aangemoedig om aan plaaslike veiligheidsinisiatiewe deel te neem en enige bekommernisse by die buurtwag aan te meld.

Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum te ondersteun.

Soortgelyke plasings