Slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle vra vir doodstraf
Die naasbestaandes van mense wat wreed en brutaal in plaasaanvalle vermoor of beseer is, glo die doodstraf moet teruggebring word omdat tronkstraf die moordenaars klaarblyklik nie afskrik nie.
Verskeie slagoffers het in Pretoria die trauma van moorde en aanvalle herleef en emosioneel vertel hoe dit hul lewens uitmekaar geruk het.
Claudine van Wyk van Pretoria se pa Sarel Janse van Rensburg is in 2014 op sy plaas naby Tondeldoos vermoor. In 2012 is haar oom, Johan en sy vrou, Gloudien, ook wreedaardig op hul plaas in die Baltimore-omgewing aangeval.
Dalene Muller het vertel van die angs-nag in September verlede jaar toe haar man, Johnny, ’n melkboer van Frankfort, in die kop geskiet is.
Willem Stafleu se vrou, Vanessa, is ook ses jaar gelede op hul plaas in die Randfontein-omgewing doodgeskiet.
Van Wyk sê mense wat deur plaasmoorde en –aanvalle geraak word, het blywende emosionele, fisieke en finansiële skade. “’n Mens kom nooit oor dit nie. My lewe het uitmekaar geval. Die beelde van jou geliefdes se bloed kry jy nie uit jou kop nie.”
En dit maak haar en ander slagoffers blind van woede as pres. Cyril Ramaphosa oorsee uitlatings maak en voorgee die probleem is nie so erg is.
Dit laat haar en baie ander mense glo dat hy nie regtig vir alle landsburgers omgee nie.
Van Wyk raak ook emosioneel as sy dink aan die wreedheid waarmee die aanvalle en moorde gepaard gaan. Haar oom en tannie is in hul beddens geskiet. Sy is drie keer geskiet en het 15 dae later aan haar wonde beswyk. Haar pa se gesig was vermink.
Stafleu het vertel dat hy destyds ná agt van die melkstalle op pad terug huis toe was toe hy gesien het dat sy kinders van 3 en 5 alleen in die donker loop. Ander mense het hulle na sy skoonouers geneem en by die huis het hy sy vrou dood gekry. “’n Mens kan nie die skok vir ander beskryf nie. Ná ses en ’n half jaar kry my kinders steeds berading. Hulle skrik vir die geringste geluide en kan nie in hul eie kamers slaap nie.”
Ook Muller het vertel dat hul kinders, Johnny en Marike, gesukkel het om ná die aanval te slaap.
Volgens haar is hul behoud dat hulle daadwerklik besluit het om met hul lewens aan te gaan en op die plaas te bly. Johnny is doof in sy regteroor en het sy smaaksin verloor.
Hy is verlede jaar buite die opstal geskiet. Die aanvallers het tydens die aanval geld geëis en ook gedreig om Dalene te skiet. Hulle het gevlug nadat sy daarin kon slaag om die paniekknoppie te druk waarna die veiligheidsmaatskappy, polisie en ander boere opgedaag het om hulp te verleen.
Stafleu boer ook nog op die plaas hoewel hulle nie meer in dieselfde opstal bly nie. “Dis ons lewe. Dis wat ons doen en ons het nêrens anders om heen te gaan nie. Hierdie is ook ons land.”
Die slagoffers het na vore gekom om hul verhale te vertel as deel van AfriForum se plaaslike en internasionale bewusmakingsveldtog oor plaasmoorde. “Ek het besluit om die stem te wees vir my geliefdes wie se bloed gevloei het. Die wiel is besig om te draai en die res van die wêreld is besig om kennis te neem van wat hier aangaan,” sê Van Wyk.
Sy het ander slagoffers aangemoedig om ook te praat oor dit waardeur hulle gegaan het. Sy meen ook mense moet hulp vra en nie probeer om op hul eie sterk te wees nie.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie gaan voort met sy veldtogte om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar te kry. “Ons weet die res van die wêreld kan en gaan nie ons probleme kan oplos nie. Ons moet egter voortgaan om ons boodskap uit te dra sodat die wêreld druk op die ANC-regering kan plaas om die krisis te erken en dit daadwerklik aan te pak.”
’n Afvaardiging van AfriForum wat uit Ian Cameron, Nic Arnold en Barend Uys, bestaan is tans in Australië waar hulle politici en ander meningsvormers ontmoet en oor die omvang van plaasmoorde en –aanvalle en onteiening sonder vergoeding inlig.
Stafleu het gesê misdaad is buite beheer in die land en die regering sal iets daaraan moet doen. Hy meen ook swaarder strawwe is nodig om wet en orde te herstel.