|

Slaggatprojek is AfriForum se Lichtenburg-tak se grootste projek nog

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het van 19 tot 26 Oktober voortgegaan met dié tak se reuseslaggatprojek en 480 m2 is by die kruising by Beyers Naude-rylaan en 12de Laan herstel. Die slaggate by hierdie kruising is met 20 ton warm teer gevul en een drom ss60 Bitumen is gebruik om die slaggate te seël.

Altesaam 61 ton warm teer is gedurende Oktober gebruik om verskeie slaggate in Lichtenburg te herstel. Die slaggate wat herstel is, beslaan ongeveer 1 464 m2 en vyf dromme ss60 Bitumen is gebruik.

“Ons maak al die afgelope twee jaar slaggate reg in Lichtenburg en het reeds ongeveer 260 ton teer gebruik vandat die projek ontstaan het. Hierdie is die grootste projek wat ons al ooit aangepak het met die blokke van 480m2. Dit is weereens ’n bewys dat wanneer die gemeenskap hande vat met AfriForum, gebeur dinge in ons dorp. Ek is ongelooflik trots op my span,” sê Pine Pienaar, AfriForum se slaggatprojekleier in Lichtenburg.

AfriForum se Lichtenburg-tak bedank graag vir NWK vir 10 ton teer, een drom ss60 Bitumen en die snymasjien en roller wat hulle beskikbaar gestel het. Die tak bedank ook vir Rossouw Vulstasie wat 10 ton teer en een drom ss60 Bitumen geskenk het, asook vir Gideon du Preez wat twee vragte teer afgelaai het.

Die Lichtenburg-tak daag sakeondernemings en individue uit om teerskenkings te maak indien hulle ’n spesifieke straat se slaggate gevul wil hê. Inwoners word ook aangemoedig om by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit. Dit kan aanlyn gedoen by www.wordlid.co.za of deur vir Steyn Kearny, takvoorsitter, te skakel by 082 803 3628.

Soortgelyke plasings