|

Sewende agtereenvolgende jaar wat geen Vrystaatse vullisterreine AfriForum-oudit slaag nie

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal en vanjaar het die Vrystaat weer die slegste gevaar uit al die provinsies. Vir die sewende agtereenvolgende jaar het geen vullisterreine in die Vrystaat die oudit geslaag nie. Dié provinsie, tesame met die Noord-Kaap, is die swakste presterende provinsies in die land.

Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die land kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie. Altesaam 28 vullisterreine is besoek, hiervan is 27 formeel geoudit en een terrein, naamlik Steynsrus, was te onveilig vir die ouditproses. Uit die 27 vullisterreine wat geoudit is, het 15 aan 10% of minder van die ouditvereistes voldoen.

Só vergelyk die vullis terreine in die Vrystaat:

Die situasie in die provinsie kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.

Volgens Alta Pretorius, Christa Ikking en Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerders vir die Vrystaat, is dit duidelik dat die meeste vullisterreine in die Vrystaat gebuk gaan onder wanbestuur, wat daartoe lei dat meerderheid van terreine in ’n haglike toestand is. “’n Algemene probleem wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is dat daar geen beheer oor die bestuur van vullisterreine is nie. Dit is ’n groot rede tot kommer, aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word vir hierdie wanbestuur nie.”

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen die Vrystaat se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings