SEWE SKAKERINGS VAN MISLEIDENDE INLIGTING – US-KONSEPTAALBELEID V.2
Deur Bernard Pieters
Die tweede weergawe van die Universiteit Stellenbosch (US) se konseptaalbeleid waarop die publiek tans kan kommentaar lewer, lees baie anders as die eerste weergawe.
AfriForum Jeug is van mening dat die Jakes Gerwel-verslag wat die ANC in Januarie 2002 vrygestel het, naamlik om twee enkelmedium universiteite (Maties en Pukke) te behou, eerbiedig moet word. AfriForum Jeug stem – ironies genoeg – saam met die ANC se navorsing en standpunt dat Maties enkelmedium moet word. Uit die beperkte opsies wat die US bied sal ’n parallelmediummodel met Afrikaans en Engels vir eers doeltreffend wees. Die parallelmedium kan dan stadig maar seker die weg baan vir die US om terug te keer na enkelmedium Afrikaans.
Kom ons ontleed die inhoud van die nuutste konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch.
- Afrikaans enkelmedium en die Konstitusionele Hof:
Die US argumenteer deur die loop van die dokument dat dit nie finansieel volhoubaar is om Afrikaans as onderrigmedium te behou nie, tog was dit vir amper ’n eeu die geval en die ANC-verslag beveel dit selfs aan. In die privaat sektor het tersiêre instellings soos Akademia en Sol-Tech, om net twee te noem, die enkelmediumbeleid uiters suksesvol ingestel. Nuwe, moderne instellings het die geneigdheid om beter te presteer as ouer instellings wat nie veerkragtig of buigbaar is nie.
Die US gee in die rektoraat (steundokument tot die nuwe beleid) twee redes waarom Afrikaans as enkelmedium nie moontlik is nie. Die eerste rede lui dat dit nie lewensvatbaar is nie aangesien dit te duur is. Al wat hierdie argument bewys is dat die US nodig het om meer innoverend te dink, want instellings soos Akademia en Sol-Tech (wat eintlik nog in hulle kleuterskoene staan) het groot universiteite ore aangesit tydens die inperkingstyd wat onderrig aanbetref. Die US het duidelik groter probleme as net die taalbeleid.
Die tweede argument wat voorgehou word, is dat die Konstitusionele Hof dit nie sal toelaat nie. Hier verwys die US na die hofsaak tussen AfriForum en die Universiteit van die Vrystaat waar die uitspraak teen AfriForum was. Tog het Kovsies vroeër vanjaar, vier jaar ná Afrikaans so te sê heeltemal uitfaseer is, aangekondig dat hulle ’n sentrum vir veeltaligheid op die been gebring het om onder andere Afrikaanse studie-inhoud aan studente beskikbaar te stel.
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, som dit goed op: “As die universiteitsbestuur Afrikaans as onderrigmedium behou het en eerder die tyd en regskostes al in 2016 vir die totstandkoming van so ’n akademie aangewend het, was die posisie van al drie die tale aan die Universiteit van die Vrystaat vandag waarskynlik sterker, en het vier jaar se studente wat nie eerstetaalsprekers van Engels is nie al daarby gebaat.” Verwysing na dié sentrum word gerieflikheidshalwe uit die US se dokument gelaat aangesien dit verdoemend is vir hulle argument teen Afrikaans en isiXhosa.
- Die agenda en motief om Afrikaans te vernietig:
Prof. Jonathan Jansen het in 2013 gesê dat wit, Afrikaanse skole ’n bedreiging is vir Suid-Afrika se vooruitgang. Later word daar indirek verwys na die uitwissing van hierdie “Afrikaner-instellings” deur middel van transformasie. Hierdie haat en Jansen se elitistiese mentaliteit teenoor Afrikaans duur voort in Jansen se artikel van 11 Maart 2021 op LitNet waar dieselfde temas eggo. In 2019 het hy gespog dat hy ’n Afrikaanse verkoopsdame afgejak het toe sy hom in Afrikaans gegroet het. Die verkoopsdame het hom eenvoudig herken en geweet hy is Afrikaanssprekend. Sy reaksie hierop het dit egter meer laat lyk na ’n “PR”-truuk eerder as ’n geleentheid om iemand op ’n ordentlike manier reg te help.
Jansen is ook al op rekord waar hy die verbode “k-woord” gebruik, tog gee sy bevoorregte posisie hom beskerming, waar ’n gewone landsburger sekerlik voor die regsbank gesleep sou word. Prof. Jansen is tans verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan die US.
Terloops, die US se transformasiedepartement is ook besig om met individue by die Hoërskool DF Malan saam te werk om die skool se naam, taal en geloof te “herbelyn”. Dié groepie van sowat 12 individue steun sterk op die US se interne verslag van 21 April 2021.
- ANC-transformasie en die NDR:
Die ANC se beleid om alle sektore te transformeer deur middel van ras- en geslagsgebaseerde segregasie is duidelik uitgelê in die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Sien die US se Visie 2040 vir ’n beter verpakte weergawe vir ’n Afrikaanse gehoor.
Net ’n vinnige blik op transformasie en waar dit al “gewerk” het en wat mense daarvan dink.
- 2018 – rugby: Steve Hansen het gedurende ’n onderhoud gesê dat die Springbokke die enigste span is waarvan hy weet wat nie spelers volgens meriete kies nie, maar volgens raskwotas. Hy het verder gesê dat hierdie rassesegregasiebeleid teen die gees van internasionale sport gaan.
- 2019 – rugby: Siya Kolisi het gesê dat hy nie dink dat Mandela rassesegregasie (kwotas) sou goedkeur nie. Kolisi het verder gegaan en gesê dat hy eerder op meriete geoordeel wil word as op die kleur van sy vel.
Net ’n paar ander voorbeelde waar transformasie al “suksesvol” toegepas is: Eskom, Denel, die SA Poskantoor, Suid-Afrikaanse Lugdiens en nog meer. Met hierdie transformasierekord is dit duidelik waarheen die US en die Hoërskool DF Malan op pad is. Die eintlike vraag is hoekom die US ’n pad van selfvernietiging kies?
- Engels as die enigste opsie:
Die US is ’n staatsinstelling en volg die nuwe rassesegregasiewette en gevolglike ANC-wetgewing. Die publiek is naïef as hulle dink ’n tersiêre instelling sal teen die staat standpunt inneem. Waar was die akademici in Soviet Rusland, 1930’s/40’s Duitsland en China, wat steeds konsentrasiekampe het vir minderhede wat vir hul menswaardigheid, taal en geloof veg? Ironies genoeg is dit juis hierdie instellings wat die US in hul “transtaligheid”-debat aanhaal.
Die US gee voor om inklusief te wees, maar gebruik akademiese materiaal van ’n tersiêre instelling wat aan ’n staat met konsentrasiekampe behoort. Ek dink dis ’n goeie weerspieëling van die moraliteit van die US-bestuur. Die feit is dat die konsep van transtaligheid tans ’n gonswoord is en selfs in informele situasies, soos om ’n braaivleisvuur, gebruik word. Dis eintlik net ’n nuwe naam vir iets wat al vir eeue toegepas word tussen mense wat nie mekaar se tale verstaan nie. Die toepassing van hierdie konsep in ’n meer formele omgewing is net ’n verskoning om later te sê: “Ons het alles probeer.”
- Afrikaans, Khoi-, Nama- en San-tale nie inheems?
Die US speel dit baie neutraal en sê dat hulle in gesprek sal tree met die staat wat nie hierdie tale as inheems beskou nie. Die feit is dat hierdie tale wel inheems is en die US, as akademiese instelling, het bepaalde verantwoordelikhede om hier standpunt teen die regering in te neem vir die behoud van hierdie tale.
- Gedokterde statistiek?
Die dokument van die US is belaai met statistieke, maar soos Ronald Coase gesê het: “As jy die data lank genoeg martel, sal dit enigiets wys.” Wat die US egter nalaat om in hul dokument deur te gee, is die persentasie studenteplasings wat deur “funksionele” kwotas bepaal word of die kriteria waarvolgens personeel “funksioneel” aangestel is. Die geteikende werwing van studente in Engelse woonbuurte en skole is ook iets wat gerieflikheidshalwe nie in die dokument weergegee word nie.
Wat die US hier doen is soortgelyk aan iemand wat ’n partytjie reël en die kwotas vir uitnodigings beperk tot 20% Ford-eienaars en 80% Toyota-eienaars. Tydens die partytjie word ’n opname gedoen waar die deelnemers gevra word of hulle Ford of Toyota verkies. Ná die tyd word net die opname se data gedeel waar die uitslae dan wys dat 80% Toyota verkies, maar die kwota wat die deelnemers bepaal word nooit genoem nie.
Die statistiek wat voorgelê word deur die US, onder andere dié van dosente en studente se taalvoorkeur, is so geloofwaardig soos die Nigeriese prinse wat vir jou sal geld stuur as jy ’n klein deposito maak.
- Meertaligheid by die US:
Funksionele meertaligheid word voorgehou as die roete wat die US wil neem. AfriForum Jeug sal dit as ’n goeie tweede opsie beskou ná ’n tydelike parallelmedium wat oorskakel na Afrikaans-enkelmedium. Tog word die term “funksionele meertaligheid” later gebruik. Dit is soortgelyk aan ’n man wat vir sy vrou sê sy is funksioneel die enigste een vir hom …
Verder word daar gesê dat die US (behalwe vir Engels) twee amptelike tale sal bevorder. Aangesien slegs Afrikaans en die Khoi-, Nama- en San-tale inheems is aan die Wes-Kaap, sou dit logies by die twee amptelike tale ingesluit moes word. Hoekom beperk die US dit tot hierdie twee opsies? Die US het reeds onderneem om IsiXhosa te bevorder wat inheems is aan die Oos-Kaap. Solank die US die opsies – insluitend Engels – arbitrêr beperk tot twee, weet hulle dat die IsiXhosa, Afrikaans en Khoi-, Nama- en San-tale onder mekaar sal stry vir ’n plek. Die Romeinse gesegde lui “verdeel en oorwin” en die US is hier ’n klassieke voorbeeld van hierdie beleid.
AfriForum Jeug koop dus nie die gelaaide argument van die US nie.
Die US sluit die dokument af met die opinie van die rektoraat. Die slot begin met die argument dat die aanvraag na Afrikaans afneem, maar tog is dit nêrens met betroubare data bewys nie. Verder word daar genoem dat Afrikaans as parallelle opsie te duur is – hoewel daar kleiner instellings is met minder finansiële ondersteuning wat dit kan regkry. Daar is ook geen bewyse dat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geweier het om Afrikaans aan die US te befonds nie. Is dit dalk tyd vir die “ras-aktiviste” op die US-bestuur om af te tree en plek te maak vir meer bevoegde bestuur? Die opvoeding en opleiding van ons jeug moet tog ’n universiteit se primêre funksie wees, nie die bevordering van politieke agendas nie. Die dokument eindig uiteindelik met ’n gevolgtrekking dat ’n meertalige opsie voorkeur geniet – sonder enige waarborge en waar “inklusiwiteit” voorgehou word as rede vir die besluit. Dit is ironies dat die US oortuig is dat inklusiwiteit bereik gaan word deur studente van sekere taalgroepe uit te sluit. Die dokument in sy totaliteit is vol misleidende inligting en eindig op ’n manier waar die US carte blanche het om te maak en breek soos hulle wil sonder enige gevolge of implikasies vir besluite wat geneem word.
Bernard Pieters is bestuurder by AfriForum Jeug