|

Ses kleuterskole spog met vrugtebome ná AfriForum-skenking

AfriForum se Kimberley-tak het gedurende September behoorlik boomplantmaand bevorder deur ses vrugtebome aan kleuterskole te skenk. Die skenking het lemoen-, suurlemoen- en appelkoosbome ingesluit en sal in die nabye toekoms nie net die omgewing verfraai nie, maar ook opvoedkundige en voedingsvoordele aan die voorskoolse kinders bied.

Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê die Kimberley-tak het verlede maand ses kleuterskole besoek om die bome te plant. Hiertydens het die kinders aktief deelgeneem aan die aanplanting en in die proses meer oor die omgewing geleer. Die kinders, onderwysers en ouers sal voorts rentmeesters van hierdie bome wees en dit versorg om eindelik die vrugte van hul pogings te pluk.

“AfriForum beywer om in boomplantmaand omgewingsbewustheid onder jong kinders te bevorder. Die teenwoordigheid van vrugtebome by hierdie Kimberley-kleuterskole dien as ’n praktiese opvoedkundige hulpmiddel wat die kinders leer oor die omgewing, biologie en die belangrikheid van gesonde eetgewoontes,” sê Smit.

“Soos die bome groei en vrugte dra, sal dit boonop ’n volhoubare bron van voedsel vir die kinders verskaf. Dit ondersteun nie net gesonde eetgewoontes nie, maar demonstreer ook die waarde in selfvoorsiening en selfdoen.”

Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum se Kimberley-tak te ondersteun en ’n golf van positiewe verandering in die gemeenskap teweeg te bring.

Soortgelyke plasings