|

Senzo Meyiwa: Saak uitgestel tot môre

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans ’n waaksaamheidsopdrag namens Ntombifuthi Meyiwa, asook Zama en Nomalanga Meyiwa (onderskeidelik die ma en susters van die voormalige Bafana-Bafana-kaptein Senzo Meyiwa) het in die strafsaak na Senzo se moord, het vandag se uitstel van die verrigtinge tot môre-oggend as teleurstellend bestempel, maar bygevoeg dat dit redelik is om beskuldigde nr. vyf die geleentheid te gee om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer. Regter Tshifhiwa Maumela het die aansoek om uitstel toegestaan en ook beveel dat konsultasie tussen die beskuldigdes en hul verteenwoordigers deur die Departement van Korrektiewe Dienste gefasiliteer moet word. Die staat het nie die aansoek teengestaan nie.

’n Regsverteenwoordiger het ook vandag aangedui dat sy ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in die saak vir Kelly Khumalo optree.

Vandag se uitstel volg nadat adv. Zandile Mshololo aangedui het dat sy nie met haar kliënt kon konsulteer nie omdat die staat eers op 30 Maart sekere belangrike getuieverklarings aan die verdediging verskaf het en sy gesukkel het om intussen met haar kliënt te konsulteer wat tans gevangenisstraf in Kokstad uitdien. Sy het aangevoer dat haar kamers in Durban vêr is van Kokstad af en dat die Departement van Korrektiewe Dienste haar versoeke om konsultasie met haar kliënt geweier het.

Die staat het aangedui dat die verklarings tot en met twee weke gelede van die verdediging weerhou is, omdat die betrokke getuies vir hul lewens vrees en hulle eers in die getuiebeskermingprogram geplaas moes word voordat hul verklarings blootgelê kon word.

“Ons is uit die aard van die saak teleurgesteld dat die verhoor nie vandag kon begin nie, maar voel in hierdie geval dat die versoek om uitstel redelik is. Ons sal voortgaan om die verrigtinge te moniteer om te verseker dat die Meyiwa-familie uiteindelik geregtigheid kry vir die sinnelose moord op Senzo byna agt jaar gelede,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid.

Verder het adv. Malesela Teffo, die regsverteenwoordiger van beskuldigdes 1 tot 4, eers aangedui dat hy die aansoek gaan teenstaan omdat hy gereed is om voort te gaan met verhoor. Daarna het hy egter aangedui dat hy nie die aansoek om uitstel sal teenstaan nie, mits die uitstel korter as 24 uur is en toe gevra of die beskuldigdes (waaronder ’n gevonniste misdadiger) oornag in die polisieselle gehou kan word om konsultasie toe te laat. Regter Maumela het egter hierdie versoek afgekeur.

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso word aangekla van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Soortgelyke plasings