Secunda soos ’n nuwe sikspens danksy AfriForum-buurtspan
Munisipale verval het die burgerregteorganisasie AfriForum genoop om buurtspanne in sy takstrukture aan te stel wat daagliks kan werk om hierdie verval teen te werk.
Een só ’n span is AfriForum se Trichardt, Evander, Kinross en Secunda (Teks)-tak se buurtspan wat sedert middel Julie in Secunda bedrywig is.
Aangesien die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit nie hul pligte nakom deur die dorp se groenstroke en parke skoon te maak nie, maak die buurtspan al die groenstroke en parke skoon deur die gras te sny, rommel op te tel en bome te snoei.
Die buurtspan het sedert Julie reeds ongeveer 101 000 m2 skoongemaak, wat nie net bydra tot die dorp se algehele netheid nie, maar dit ontneem misdadigers en sluipslapers ook van skuilplekke.
Hierdie span maak ook gereeld die Secunda-begraafplaas skoon. Die munisipaliteit het die tak en vrywilligers vroeër vanjaar versoek om die skoonmaak van die begraafplaas te staak omdat die dorp se verordenings bepaal dat slegs die munisipaliteit daar mag skoonmaak. Volgens die tak het maande soms verbygegaan sonder enige munisipale instandhouding.
“As dit nie vir die buurtspan was nie, het Secunda al in totale verval vergaan. Inwoners se veiligheid word drasties deur hierdie projekte verbeter,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.
Verder het hierdie bedrywige span ook 980 sakke teer gebruik om Secunda se paaie op te knap. Die slaggate wat herstel is, is ook geseël om te verseker dat die padoppervlak nie weer verval wanneer dit reën nie.
Volgens Du Plessis is die tak en buurtspan se harde werk ’n bewys van ’n gemeenskap wat nie langer vir die munisipaliteit of ander mense gaan wag om die werk te doen nie, maar dat hulle eerder self gaan inspring om ’n verskil te maak.
“Die Teks-buurtspan sal aanhou met hul harde werk in Secunda. Ons neem ons dorp nou terug. Ons sal nie meer vir ander mense wag nie. Ons sal dit self doen!” sê Du Plessis.