Sasolburg-tak sny 23 ha gras in Mei
Die AfriForum-tak in Sasolburg het in Mei steeds onverpoosd gewoeker met die grassnyery om die dorp netjies te hou. Daar is 23 ha gras gedurende Mei in verskillende areas gesny, waaronder die gebied agter die onderwysdepartement, Oliviershoek, die groenstrook by die NG kerk Fonteine na die Primêre Skool Fonteine, Hoёveld Tuine, Oppermanstraat, die groenstrook by Mia’s Place na Nuwekloof na Koeberg, en die Wildkamp by Da Gama en Waterkant. Al hierdie areas is eers skoongemaak voordat die gras gesny is. Hierdie was waarskynlik die laaste grassny voor die winter amptelik aangebreek het.
“Sasolburg se AfriForum-tak doen baie om die dorp netjies te hou en die gemeenskap is hul ewig dankbaar. Die taklede wat al hoe meer betrokke raak, is ’n groot pluspunt vir die dorp. Ek is seker dat daar ander projekte vir die winter sal wees waaraan die gemeenskap kan deelneem,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).