| |

Sasolburg-tak maak beswaar teen slaggate wat swak herstel is

Die AfriForum-tak in Sasolburg het vandag ’n dringende brief aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gerig om beswaar te maak oor die swak vakmanskap waarmee slaggate deur die munisipaliteit herstel word. Omdat die gate nie reg voorberei en herstel word nie, spoel die eerste reёn die gate weer oop. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die gate in President Brandstraat wat op 4 Februarie herstel is en nou nà die reёn weer erger as ooit lyk. Dit bly ’n risiko vir motoriste.

“Ons hoop werklik dat die munisipaliteit sal aandag gee aan hierdie saak. Die munisipale amptenare wat die werk doen behoort opgelei te word om dit behoorlik te doen. Omdat die AfriForum-tak al talle slaggate herstel het, weet hulle wat die regte manier is,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak, is dit ook onaanvaarbaar dat die munisipale werkers die  leë teersakkies op die sypaadjie of in die straat gooi. “Dit laat die dorp slordig lyk. Die tak sny die gras op die sypaadjies en kan dit dus dan nie behoorlik doen nie. Die munisipaliteit moet toesien dat hulle werkers die werk behoorlik doen,” sluit Cooks af.

As jy graag betrokke wil raak by die Sasolburg-tak se projekte, kontak Cooks by 083 230 9073.