|

SAPD hoes meer as R2,4 miljard aan uitbetalings weens onregmatige arrestasies sedert 2018 – AfriForum eis dringende hervorming

Uitbetalings van eise na aanleiding van onregmatige arrestasies deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vir die duur van voormalige Polisieminister, Bheki Cele, se termyn vanaf 2018 tot Junie 2024, volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, meer as R2,4 miljard beloop. In 2023/2024 alleen is uitbetalings van minstens R600 miljoen gemaak. Vergeleke met uitbetalings wat in 2018/2019 gemaak is, kom die afgelope jaar s’n neer op ’n toename van nagenoeg 70%. AfriForum hou vol dat dié skokonthulling die dringende hervorming van die SAPD se opleidingsprogramme en -praktyke nou noodsaak. 

AfriForum se eis vir hervorming volg in reaksie op kommerwekkende syfers van onregmatige arrestasies wat die huidige minister van Polisie, Senzo Mchunu, vroeër in die parlement onthul het. Daarvolgens is daar in die 2023/2024 finansiële jaar ’n totaal van 4 135 onregmatige arrestasies uitgevoer wat reeds eise van meer as R2 miljard tot gevolg gehad het. Hoewel Mchunu in sy parlementêre antwoord oor die aangeleentheid benadruk het dat die bedrag nie die werklike uitbetalings reflekteer nie, is die omvang van die probleem – wat tydens Cele se termyn duidelik kritieke afmetings aangeneem het – geweldig.

Onregmatige arrestasies is volgens AfriForum onaanvaarbaar en berokken ernstige skade aan die publiek se vertroue in wetstoepassing in Suid-Afrika.

AfriForum dring dus daarop aan dat die SAPD ’n indringende hersiening van sy opleidingsprogramme onderneem en veral aandag skenk aan die wetlike aspekte wat met arrestasies gepaardgaan. Doeltreffende opleiding is krities om te verseker dat beamptes nie net genoegsame kennis van die wet het nie, maar ook toegerus sal wees met die nodige vaardighede om hul take regverdig en doeltreffend uit te voer.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Veiligheid, doen die burgerregteorganisasie ook ’n beroep op ’n omvattende hersiening van die SAPD se interne stelsels en prosesse, aangesien onregmatige arrestasies simptomaties is van ’n veel groter probleem in die polisie.

Hoewel AfriForum die harde werk van die groot aantal toegewyde polisiebeamptes waardeer, is dit duidelik dat die werwing, keuring en opleiding van polisielede dringende aandag noodsaak. Die afwenteling van polisiëringsmagte is ’n verdere manier waarop toegesien kan word dat gehalte-opleiding van en toerekeningsvatbaarheid onder polisielede afgedwing sal word.

AfriForum hou vol dat die hervorming van die SAPD ’n noodsaaklike element in die vestiging van ’n veiliger Suid-Afrika is en dat hierdie hervorming die afwenteling van polisiëringsmagte na laer regeringsvlakke moet insluit.

“Ons doen ’n beroep op die nuwe SAPD-administrasie om dadelik stappe te doen om die interne uitdagings wat polisie in die gesig staar, insluitende swak opleidingstandaarde, lae moraal onder lede en hulpbrontekorte, die hoof te bied. AfriForum is oortuig dat die SAPD, met die regte leierskap en hervorming, weer die publiek se vertroue kan herwin en kan toesien dat alle Suid-Afrikaners beskerming teen misdaad sal kan geniet,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings