Samewerking nou nodig om afvalbestuurkrisis in Tshwane-metro af te weer
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag opnuut ’n beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gedoen om saam te werk om oplossings vir die uitdagings rakende afvalbestuur te vind. Daar is tans slegs vier operasionele vullisterreine onder die Tshwane-metro se bestuur, wat aansienlike uitdagings veroorsaak ten opsigte van doeltreffende afvalbestuur. Nie een van hierdie vullisterreine het AfriForum se vullisterreinoudit vanjaar geslaag nie.
AfriForum meen dat die afvalbestuur-uitdaging in die Tshwane-metro vererger is deur die sluiting van die Onderstepoort-vullisterrein in 2019.
Hoewel AfriForum bewus is dat die ontwikkeling van nuwe vullisterreine ’n ingewikkelde en dikwels uitgerekte proses is, beklemtoon die organisasie dat onmiddellike ingrypings en strategiese vennootskappe noodsaaklik is om ’n volskaalse afvalbestuurkrisis te vermy.
AfriForum het reeds proaktiewe stappe geneem om die situasie te versag, soos die bestuur van ’n herwinningsskeidingsterrein, wat die organisasie van plan is om verder uit te brei. Die omvang van die probleem noodsaak egter ’n kollektiewe poging. AfriForum is daartoe verbind om saam met die Tshwane-metro en ander belanghebbendes te werk om innoverende en volhoubare oplossings te ontwikkel.
In ’n skrywe aan die stadsbestuurder van die Tshwane-metro lig die organisasie hierdie uitdagings uit en versoek dan ook verskeie inligting waar onder:
- Die Tshwane-metro se planne vir die ontwikkeling van nuwe vullisterreine;
- onmiddellike oplossings om kapasiteitsbeperkings uit die weg te ruim en;
- geleenthede vir samewerking.
“Ons glo dat samewerking die sleutel is om die Tshwane-metro se afvalbestuursuitdagings op te los. AfriForum is gereed om met die Tshwane-metro en ander belanghebbendes in gesprek te tree om ’n volhoubare, doeltreffende stelsel te verseker wat alle inwoners bevoordeel,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
AfriForum nooi die Tshwane-metro uit om by hierdie kwessies betrokke te raak en verwelkom die geleentheid om by te dra tot volhoubare afvalbestuuroplossings.