Samewerking met plaaslike owerhede is belangrik vir Harrismith-buurtwag


Op 21 September 2018 het AfriForum se buurtwag in Harrismith saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Community Patrollers vanuit die Moslem-gemeenskap ’n suksesvolle padblokkade gehou. Tydens hierdie blokkade is drie arrestasies gemaak, waaronder twee vir bestuur onder die invloed van alkohol en een vir vorige oortredings.

“Ons besef dat dit belangrik is om saam met die plaaslike rolspelers in die gemeenskap te werk. Saam kan ons groter take verrig en Harrismith weer ’n veilige omgewing maak,” sê Michelle Peens, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Vrystaat.
“Ons wil graag ons dank teenoor die SAPD in Harrismith uitspreek vir die geleentheid om saam met hulle te kon werk. AfriForum se Harrismith-buurtwag onderneem om elke geleentheid vir soortgelyke samewerking te benut en ons moedig ook graag die plaaslike gemeenskap aan om ons hiermee te help,” sê Peens.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Harrismith” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings