Water
|

Samewerking en volhoubare oplossings nodig vir nuwe minister van Water en Sanitasie se sukses – AfriForum

Die Departement van Water en Sanitasie is op ’n mespunt en vereis sterk leierskap en kontinuïteit om drukkende kwessies doeltreffend aan te pak. AfriForum meen dat die nuut aangestelde minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, ’n reusetaak het wat voorlê. Die burgerregteorganisasie is egter gereed om saam met Majodina te werk om kritieke kwessies rakende Suid-Afrika se water en sanitasie-sektor op te los.

AfriForum glo dat daar vinnig en beslissend opgetree moet word deur alle rolspelers om die waterkrisis aan te roer. Indien daar nie dringend opgetree word nie verleng dit net die agteruitgang van gemeenskappe wat gebuk gaan onder water tekorte en ’n gebrek aan toegang tot skoon drinkwater – dit sal ook die omgewings- en sosio-ekonomiese impak van hierdie krisis vererger.

Die organisasie maan Majodina om die volgende te prioritiseer:

Kontinuïteit in leierskap en beleidsimplementering: Skielike veranderinge of ’n volledige hersiening van huidige projekte soos die blou-, groen- en geen druppel kan nadelig wees. Dit is van kardinale belang om op bestaande raamwerke voor te bou en sodoende ’n soomlose oorgang te verseker wat stabiliteit en vooruitgang bevorder.

Fokus op munisipale infrastruktuur: Majodina se aanstelling kom in ’n tyd waar munisipale infrastruktuur in ’n droewige toestand is en waar dringende ingryping nodig is om verdere agteruitgang te voorkom. Baie munisipaliteite sukkel met verouderde en gebrekkige water- en sanitasiestelsels. Die oplos van hierdie infrastruktuurkwessies moet ’n topprioriteit wees om dienslewering te verbeter.

Samewerkende pogings vir volhoubare oplossings: Skakeling met verskeie belanghebbendes, insluitend gemeenskapsorganisasies soos AfriForum, sal noodsaaklik wees in die ontwikkeling en implementering van volhoubare oplossings vir water en sanitasie. AfriForum se spesialiste, ingenieurs en maatskappye is gereed en beskikbaar om die dringende wateruitdagings wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, aan te spreek.

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, dreig ’n waterkrisis en daarom is dit van kardinale belang om alle beskikbare kundigheid en hulpbronne te mobiliseer om volhoubare oplossings te vind. “AfriForum erken die belangrikheid van samewerking en koördinering tussen belanghebbendes om hierdie kritieke kwessie aan te roer. Organisasies en spesialiste kan bydra tot ’n kollektiewe poging om die waterkrisis doeltreffend aan te pak,” verduidelik De Klerk.

Majodina se sukses in hierdie rol sal ’n groot impak hê op miljoene Suid-Afrikaners wat op hierdie noodsaaklike dienste staatmaak. AfriForum bly verbind tot die ondersteuning van inisiatiewe wat die welstand van ons gemeenskappe verbeter en sien uit na konstruktiewe skakeling met die nuwe minister. AfriForum bly daartoe verbind om met staatsamptenare, waterspesialiste en gemeenskapsverteenwoordigers saam te werk om oplossings vir die waterkrisis te vind. Die organisasie doen ’n beroep op alle belanghebbendes om samewerking en optrede te prioritiseer om die impak van die krisis op gemeenskappe en die omgewing te versag.

Soortgelyke plasings