Sakeregtewaghond werp lig op rewolusionêre kriptogeldeenhede
Die sakeregtewaghond AfriSake het vandag ’n konferensie in Pretoria aangebied waar kenners meer lig op die radikale ekonomiese tegnologiese revolusie gewerp het wat reeds deur konsepte soos blokkettings en kriptogeldeenhede teweeggebring word.
Terwyl die wêreld aan die gons is oor kriptogeldeenhede soos bitcoin en ethereum, meen ekonome dit moet steeds eerder as ’n spekulatiewe as beleggingsgeleentheid gesien word.
Dat die wêreld van geld, ekonomieë, verhandeling, transaksies, aandelebeurse, regeringsmag, belastingheffing en selfs maatskaplike strukture onherroeplik hierdeur verander en geraak gaan word, is egter ’n gegewe.
Philip Loots, bestuurder by EPI – USE, het verduidelik wat ’n blokketting en kriptogeldeenheid is en hoe dit werk.
’n Blokketting is ’n nuwe elektroniese kontantstelsel waar daar met kriptogeldeenhede verhandel word. Alle kriptogeldeenhede soos bitcoin maak van blokkettingtegnologie gebruik. Elke geldeenheid het sy eie blokketting. Blokkettings kan nie gewysig word nie. Blokkettings gebruik ’n gesentraliseerde netwerk van rekenaars om bewys van eienaarskap en transaksies geldig te verklaar. Alle transaksies word in blokke gepak en aan die ketting gelas. Die ketting kan nie gebreek of verander word nie omdat dit deur ’n magdom onafhanklike rekenaars wêreldwyd gekontroleer word. Rekenaar-algoritmes word vir alle transaksies gebruik.
Die digitale betaalstelsel behels dat daar geen geld of munte gedruk word nie. Dit is as’t ware “geld” in ’n digitale beursie. Dit kan ook nooit die ketting verlaat nie. Kriptogeld kan op verskeie maniere “gekoop” word. Die algemeenste is om van gewone elektroniese bankdienste gebruik te maak om ’n handelaar te betaal waarna die aanlynbeursie geskep word en die hoeveelheid kriptogeld wat bekom is aangedui word. Kriptogeld kan reeds vir sekere aanlynstransaksies gebruik word.
Blokkettings en kriptogeldeenhede is nog so nuut dat die tegnologie nog glad nie gereguleer word nie. Eintlik weet regerings nog nie waarmee hulle hier te doen het nie, meen Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep.
Daar is tans reeds meer as 1 300 kriptogeldeenhede in omloop teenoor die 180 harde geldeenhede in die wêreld. Bitcoin verteenwoordig 56,4% van kriptogeld en het ’n markkapitaal van meer as $240 miljard.
Roodt meen die gebruik van digitale geld gaan die wêreld soos mense dit ken op sy kop keer. “Banke kan verdwyn, belastingstelsels sal verander, die aandelebeurs en selfs versekeraars kan verdwyn.”
Volgens Roodt gaan die nuwe radikale ekonomiese tegnologie die mag terug in die hande van mense in plaas van regerings plaas.
Roodt meen daar is steeds baie onsekerheid rondom die tegnologie. Mense gaan of baie geld maak of baie geld verloor. “Wat wel baie belangrik is, is dat jy moet seker maak met wie jy in die toekoms besigheid doen.”