| |

Rustenburg-tak se volhoubare skoonmaakprojek nog sterk op die been

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in April hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit en 14 sleepwaens vol rommel weggery en altesaam vier hektaar gras gesny. Daar is veral gefokus op Krugerstraat, Arendweg, Dawesstraat en Nelson Mandelastraat.

Die tak het in Januarie 2022 met die volhoubare skoonmaakprojek begin en het sedertdien hard gewerk om Rustenburg skoon te maak.

“Projekte soos dié gee ’n gemeenskap hoop. Die feit dat die munisipaliteit nie hul daadwerklike pligte na kom nie, beteken nie dat ons moet terugstaan en kyk hoe ons dorpe agteruitgaan nie. In Rustenburg word openbare ruimtes gebruik vir onwettige vullisstorting, dwelmhandel en dit het ’n skuilplek vir misdadigers geword. Dit is onaanvaarbaar en AfriForum sal ’n stokkie daarvoor sit,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Te danke aan AfriForum se skoonmaakprojek, kan ’n mens nie anders as om trots te wees wanneer jy by Rustenburg se poorte inry waar die Rustenburg-tak skoongemaak en die gras gesny het nie. Jan Erasmus en sy span werk onverpoosd om Rustenburg veiliger te maak deur die openbare ruimtes skoon te maak en te onderhou, wat beteken dat misdadigers nie so maklik skuilplekke kan vind in die bosse nie. Rustenburg se plaaslike munisipaliteit doen al lankal nie meer die moeite om die dorp se openbare ruimtes in stand te hou nie. AfriForum se skoonmaakprojek poog om gereeld gras te sny, indringerplante uit te roei en ook rommel uit ons parke te verwyder,” sê Dawie Conradie, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Word vandag deel van die oplossing en sluit aan by AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1) of skakel vir Conradie by 082 930 9905.