|

Rustenburg-tak pak nóg padtekens met 130 liter verf

Die AfriForum-tak in Rustenburg het die afgelope twee maande voortgegaan met die verf van padtekens en spoedhobbels in die dorp. Hierdie inisiatief is gerig op die verbetering van padveiligheid en die behoud van veilige paaie in Rustenburg. Gedurende September en Oktober is ongeveer 40 liter witverf en 90 liter geelverf gebruik om verskeie areas op te knap.

In September is stoptekens in sewe strate geverf, naamlik Bosch- en Lucasstraat, Helen Joseph-rylaan en Flambojantstraat, asook Mispelweg en Boven- en Kockstraat. Dieselfde maand is spoedhobbels in die volgende areas geverf, naamlik Geelhoutpark en die Tuscany-omgewing, asook Kremetart-, Hebe- en Watervallaan en Hedeira-, Lekkerbreek-, Line- en Bokmakierieweg.

Gedurende Oktober het die tak soortgelyke werk gedoen, met die fokus op padveiligheid in die Tuscany-omgewing, Cycadlaan en Geelhoutpark waar spoedhobbels oorgeverf is. Die tak het ook in Tuscany, Lucasstraat en Watervallaan merkers oorgeverf wat vir motoriste aandui dat daar nie parkeer mag word nie. Verder het die tak in die Waterval-area, 4de Laan en Shortstraat stoptekens oorgeverf, asook Boven- en Brinkstraat, Cycadlaan, Geelhoutpark en Pendoring-, Abelia- en Arabislaan.

“AfriForum is trots op die vordering wat gemaak is om Rustenburg se paaie veiliger te maak vir alle padgebruikers. Deur hierdie projekte, streef die Rustenburg-tak daarna om padveiligheid te verbeter en die dorp se netheid en voorkoms te behou,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot-Marico.

AfriForum bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning met hierdie projek. Die deelname van inwoners speel ’n groot rol in die sukses van hierdie projekte. Skakel Dawie Conradie by 082 930 9905 vir meer inligting oor toekomstige projekte of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings