|

Riool: Upington-tak eis onmiddellike optrede van munisipaliteit

Elke individu het die reg tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir hulle gesondheid of welstand nie – dít is een van die basiese regte van elke persoon soos vervat in die Grondwet. Dié reg is egter buite bereik vir die inwoners van Upington waar rou riool op talle plekke in dié dorp vloei as gevolg van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om infrastruktuur in stand te hou.

Die AfriForum-tak in Upington het die munisipaliteit daarop gewys dat daar op minstens vyf plekke in die dorp riool-lekkasies is wat die gesondheid van die inwoners, asook die vooruitgang van die toerisme-, ekologiese- en landbou industrieë in gedrang bring. Die Wet op Waterdienste van 1997 stel ook duidelik dat diegene wat waterdienste lewer ’n verantwoordelikheid het om basiese waterlewering en sanitasiedienste te verskaf ten einde te voldoen aan Artikel 24 van die Grondwet.

“Nie net kom die munisipaliteit nie hul basiese verpligtinge teenoor die gemeenskap na nie, maar volgens die Nasionale Waterwet is hulle ook eintlik besig om krimineel te oortree omdat waterbronne besoedel word. Dit is onaanvaarbaar en ons kan nie aanhou smeek dat hulle hierdie probleme moet oplos nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

In hul skrywe aan dié munisipaliteit eis die AfriForum-tak ’n geskrewe onderneming dat daar aan hierdie probleme aandag geskenk sal word. Voorts moet die munisipaliteit onmiddellik begin met herstelwerk in Steenboklaan, Groefsingel, Potgieter-, Dr Nelson Mandela- en Coronationstraat waar die riool veral ’n uitdaging is. Die munisipaliteit word ook versoek om teen 22 Februarie ’n uiteensetting te gee van die herstelwerk wat gedoen is.

AfriForum se Upington-tak is gereed om die hof te nader sou die munisipaliteit nie voldoende terugvoer gee op hul versoek nie.

Soortgelyke plasings