|

Regering rassisme se lewensaar sê kenners

Die vakbond Solidariteit wil in Mei vanjaar ʼn massaklag by verskeie nasionale en internasionale forums indien om rassisme en die selektiewe vervolging daarvan te beveg en onder die soeklig te plaas. Verskeie kenners het hulle vandag tydens ʼn paneelbespreking oor rassisme en die rol en invloed van die media en politieke leiers in die stryd teen haatspraak uitgespreek. Dié paneelbespreking vorm deel van die vakbond se groter #StopRassisme-veldtog wat in Februarie vanjaar van stapel gestuur is.

Die paneel het uit R.W. Johnson, joernalis en skrywer, Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis, adv. Mark Oppenheimer van die Bridge Group en regskenner prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria bestaan.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was die doel met die paneelbespreking om die narratief rondom rassisme in Suid-Afrika te beïnvloed. Verder dien dit as die agtergrond vir die massaklag wat die vakbond wil indien. Solidariteit het ook onlangs as deel van die veldtog ʼn verslag bekendgestel wat oor die selektiewe wyse waarmee daar met rassisme in Suid-Afrika omgegaan word handel.

Volgens Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), is rassespanning in 2016 in Suid-Afrika opnuut aangeblaas deur onder andere Penny Sparrow, Velaphi Khumalo, Matthew Theunissen en Julius Malema.

In die lig van hierdie verhoogde rassespanning het die SNI verskeie van hierdie hoëprofielsake ondersoek en gekyk hoe hulle hanteer is. Volgens Mulder veroorsaak sosiale media dat rassiste van alle kleure en oortuigings mense van ander rasse stereotipeer en misbruik.

Hy voer aan dat Suid-Afrika ʼn wanbalans ten opsigte van die hantering van rassisme beleef en dit blyk dat forums en organisasies soos die Menseregtekommissie (MRK) juis versuim om invloedryke individue soos pres. Jacob Zuma te ondersoek.

“Dit is belangrik om te kyk hoe rassisme in Suid-Afrika benader en hanteer word in die lig van die skade wat dit aan sekere mense en ook die gemeenskap as ʼn geheel kan aanrig. Op die oomblik sien ons dat verskillende standaarde vir verskillende groepe geld. Politici en staatsamptenare is tans die grootste aanstokers van selektiewe rassisme en hulle gebruik hul gesagsposisies om die massa te beïnvloed,” sê hy.

Adv. Oppenheimer het tydens die konferensie daarop gewys dat die regering veral in tye van ekonomiese krisisse die rassekaart as ʼn taktiek gebruik om aandag van hulself af te lei. Oppenheimer het verwys na die uitlatings van pres. Zuma dat die onlangse optogte deur duisende Suid-Afrikaners wat sy bedanking eis bloot rassisties was.

Hy het ook gewaarsku dat geskiedkundige gebeure as ’n bewys dien dat rassistiese uitlatings geweld tussen mense aanvuur.

Oppenheimer het verder aangevoer dat die media die siklus van haatspraak in sekere gevalle aanhits en ʼn rol speel in die insinuering van haatspraak of rassisme.

“Ek dink joernaliste moet hulself begin vra of die voorval waaroor hulle wil berig werklik nuuswaardig is en of die betrokke persone invloedryk genoeg is voordat hulle oor ʼn saak verslag doen.”

Johnson het tydens die bespreking gesê dat die desperate ekonomiese toestand van Suid-Afrika tot enorme frustrasie onder die publiek lei en gevolglik rassisme verder aanmoedig.

Volgens Johnson is haatspraak en rassisme slegs ʼn klein deel van ʼn baie groot probleem in Suid-Afrika en hy sê dat die ANC, wat volgens hom slegs omsien na die behoeftes van die swart bourgeoisie eerder as om armoede te bekamp en ekonomiese vryheid te bevorder, nou op sy laaste bene is en daarom swart nasionalisme as ʼn mobiliseringstaktiek teen wit mense gaan gebruik.

Johnson is ook van mening dat die ANC deur sy voorgestelde Wetsontwerp oor die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak probeer om enige kritiek teen hul politieke leiers te kriminaliseer.

Prof. Malan het gesê dat die definisie van rassisme vaag en abstrak geword het en binne die Suid-Afrikaans konteks ideologies gebruik word as kritiek teen wit mense.

Hy voer verder aan dat dié ideologiese gebruik van rassisme veroorsaak het dat figure soos Hlaudi Motsoeneng en Julius Malema binne sekere gemeenskappe as helde gesien word. Malan het verder daarop gewys dat Suid-Afrika nie hierdie tipe probleme nou sou ervaar het as die regering ʼn ekonomiese sukses was nie.

Kadalie het op haar beurt gesê dat bevrydingsbewegings sleg vir demokrasie is en nie ʼn land kan regeer nie.

“Hierdie regering met sy bevrydingsbeweging wend geen poging aan om kohesie tussen die mense van Suid-Afrika te bevorder nie. Al het hulle nou mag, regeer hulle steeds asof hulle slagoffers is.”

Volgens Kadalie het rasgedrewe woordgevegte ʼn nasionale sport in Suid-Afrika geword het speel die ANC ʼn instrumentele rol in die verdeling van die land. Sy het ook gesê ook dat die radikale ekonomiese transformasie die ANC se laaste probeerslag is terwyl die party op sy sterfbed lê.

Kadalie het haar toespraak afgesluit deur te sê dat die media ook ʼn wesenlike rol speel om die rassediskoers aan die lewe te hou. “Ras word in Suid-Afrika gebruik as ʼn retoriese wapen. Fokus eerder op die goeie stories van mense uit verskillende rassegroepe wat hard werk om te keer dat Suid-Afrika faal.”

Soortgelyke plasings